Na die droogte
‘n Ligte bries oor Vrystaat veld
warrel sag – dog ritselend –
op soek na oerbekende paadjies
verby halm en pluim te vind.
In ‘n kaalte, midde yl van gras
newel stof – soos asem roer
terwyl wolke (nog onskuldig wit)
op deinserige horisonne sloer.
Hoe spelerig die wind se waai
wat speels aan bloekomblare pluk.
Veel dreigender die luid’ geloei
as bome buig en syd’lings ruk.
Daar’s geen stof soos dié van droogte –
‘n opbrengs wat in roes skakeer.
Dit dwing ‘n helder dag tot skemer
en mantel oor die vlaktes neer.
Waarvandaan die donker wolke
wat purper wag, met goud omgloed –
waar son nog deur die grou wou skyn
moet selfs die laaste straal nou groet.
Bliksems knal en blitse flits,
dendriet deur wolke en deur stof –
verlig opeens die weerloos aarde
waaroor die donderslae ontplof.
*
In die reën wat alles wegspoel,
in die hael wat als verwoes
lê beloftes vir die toekoms –
van seisoene . . . rýp aan oes.
Ook die skape en die beeste
en die grootwild van die veld,
selfs die skamel gras en bossies
(wat hul barheid kan vermeld)
buig hul hoofde voor die storm,
maar bly stom in ootmoed staan –
al woed die wind en hael en water
wat so fél(genadig) teen hul slaan.
© C. Shaw
29 Januarie 2017
4 Kommentare
-
-

neels
carma ek wens jy kan die Vrystaat nou sien met sy groen wuiwende mielielande en kosmos vol in die blom langs die paaie
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Toom
Baie mooi beskrywing: Hoe sielstoestand uit omgewingstoestand gewek word. Besonders die afloop van die „katastrofe" wat dan terselfdertyd 'n seëning is. Dankie vir die skoot heimwee. GvT ïïïï„„„„„ëëë