‘n Ander Eva . . . Eva* van die Kaap
Eva was ‘n meisiekind,
‘n Khoikhoi van die Kaap.
Bedags het sy in die veld gespeel,
snags het sy
onder die Suiderkruis
en ‘n goue maan geslaap.
Sy’t geweet hoe klink die uil se roep
en die jakkalswelp se huil.
Die kras van ‘n honger see-meeu
het in die holte van haar keel geskuil.
Ook die fluitsang van ‘n suikerbek
kon sy eggo met haar mond
en sy’t gewis hoe lyk elk bokkie
se vastrap op die grond.
*
Op ‘n dag in 1652
– aan die voet van Tafelberg –
het Eva op ‘n rots gesit
met ‘n fynbostakkie in haar hand.
Sy was doenig met patroontjies trek
in die sagte warm sand.
Maar sy het nie geweet nie –
dit was die sesde van April.
Van so ‘n dag en datum
had sy tog géén benul.
Neffens haar,
tussen gras en blaar
(met ore na die see gedraai)
was ‘n steenbokkie aan’t staar
oor die branders
van Tafelbaai.
En Eva het haar kop gelig
en dít toe ook gewaar . . .
Drie skepe op die horison
het vanuit die mis verskyn
en – vlugtig –
het die sorgloos’ lag
in haar helder oë gekwyn.
Die riete het geritsel
en haar voete was nog vry
‘wyl sy dart’lend deur die fynbos,
oor die klippers en die skulpgruis sny
(tot op die weskus-strand) –
om te kyk hoe Jan van Riebeeck
aan die punt van Afrika
kom land.
*
Eva was ‘n meisiekind
‘n Khoikhoi van die Kaap.
Die môre nog in die veld gespeel,
maar daardie áánd
onder ‘n donker hemel
en ‘n roesrooi maan
. . . gaan slaap.
© C. Shaw
10 April 2014
*Eva – die khoi meisie wat op 12jarige ouderdom deur Jan van Riebeeck se huishouding in diens geneem is.
4 Kommentare
-
-

Toom
Wat ons - oor die hele wêreld - wéét, verdoppel elke tien minute of twee weke of tien jare of . . . Maar alles wat deur vergeet verloregaan, is nie min nie. Sulkes moet ons behou. Onthou. Dankie dat jy dit (so fyn!) opgeskryf het. GvT
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Elroux
Ek hou hiervan. Die koms van Jan van R uit 'n unieke hoek beskryf.