Jongste aktiwiteit:

Donderdag: MY VRIEND KROHN

Donderdag: MY VRIEND KROHN
„My vrou het die naweek haar suster gaan besoek, en die Saterdagnamiddag was uiters vervelig; toe gaan ry ek deur die veld en woud van die Lünebürger Heide agter Hamburg,” sê my duitse vriend Krohn. Êrens het hy op ‘n dorpie koffie gedrink, koerant gelees, sigarette gerook.

Nou vind in Duitsland in die lente en herfs sogenoemde „paddawanderinge” plaas; die paddas stroom in hul duisendtalle van hulle aangestamde woonvleie en damme terug na hul broeiplekke toe – of omgekeerd –, en by tye kan dit op die pad gevaarlik glibberig wees. Daar sien hy voor hom op die pad ‘n hele skaar groenbruin springers wat oor die rybaan streef, en hy hou ewe geduldig aan om dit te laat verbytrek. Soos my vriend Krohn daar in sy kar sit en wag bemerk hy ‘n padda wat op die middelstreep sit en met reusagtige oë na hom oploer. Hy self kyk verveeld êrens en nêrens heen.

Die padda sê, „Krohn,” sê die padda. „Neem my saam, Krohn,” sê die padda.

Wat is my vriend Krohn se verbasing groot. Hy kyk gou om, maar daar’s niemand wat kon gepraat het nie. Hy’s alleen in die kar. Hy wil net die kar in rat gooi en wegry, daar sê die padda weereens:

„ Neem my saam. Krohn!” sê die padda.

My vriend Krohn sê „Gmpff!” en kyk weg en druk op die petrol. Daar spring die padda deur die oop venster binne-in die kar in en sit langs hom op die voorste bank. My vriend Krohn sê niks nie en ry verder. Hy neem daarvan g’n notisie nie. Hy dink net, as hy by die huis aankom, gaan hy daai ding uit die kar uitsmyt. By dié verkeersopkoms is dit juis nou nie moontlik nie.

By die huis aangekom kan hy die padda nie vang nie, en hy sluit dit eenvoudig in die garage toe. Maar as hy op die drumpel staan en vroetel met die sleutels – daar is dit weer, die padda.

„Neem my saam, Krohn,” sê die padda.

Maar hy skuif die dier met die voet eenkanttoe. As hy net aan die tafel wil gaan sit om brood en kaas te eet, sit die padda op die stoel regs van hom.

„Gee my iets om te eet, Krohn,” sê die padda.

My vriend Krohn het in sy lewe nog nooit so onnosel gevoel nie, maar hy gee ‘n stuk brood met die een hand aan en met die ander hand pak hy die padda en gooi dit so ver uit die venster as wat hy kan – tot op buurman se werf. Dan maak hy die venster toe en trek hom uit om te gaan slaap. As hy van die badkamer terugkom, sit die padda op sy kopkussing. Hy gryp dit en gooi dit weer met alle krag by die venster uit. Hy maak lig uit en as hy sy kop op die kussing draai, voel hy iets koud en nat naas sy gesig.

„Ek is ‘n prinses, Krohn, ” sê die padda. „Soen my. Dan sal jy sien.” Die padda sê: „Soen my, Krohn,” sê die padda.

Nou voel my vriend Krohn werklik dom, maar hy fantaseer so ‘n bietjie en verbeel hom, dis maar net ‘n kindlike luim, en hy maak sy lippe op ‘n plooi en voel iets aaklig, koud daarteen druk.

! Ka – boem !

! Bliksem ! Donder ! Rook en swafel !

! Ka – bats !

! Die Heks en die Duiwel se Stiefmoeder !

! Ka – DOEF !

„En wat soek hierdie vrou in my bed?” wil sy vrou ewe kil weet, sy wat ‘n bietjie vroeër as verwag van haar suster huistoe gekom het.

„Dít, as antwoord op jou vraag,” sê my vriend Krohn, „hoekom ek vandag nie ‘n getroude man is nie.”

©22e.Junie2017__________≈≈≈ʘʘ≈≈≈_________(Aug.’11)tje




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed