Noudat gister verby is
Nóú wil sy weer haar eie lewe lei:
Weer dooie blomme vanaf takkies breek,
haar plante water gee (met voeding by),
voel hoe die dorings van ‘n roos kan steek,
verstom wees oor die kleur van nuwe groei
terwyl haar hande – deur die son gevlek –
bloeddruppels uit terloopse wonde bloei.
Sy wil bidgoggas in haar boom ontdek,
met bange vingers aan groen ruspes raak.
En voor die jaar tot bittereinde kom
die braakland omspit om ‘n tuin te maak,
sade saai en hul pamperlang tot blom.
Ouhout wegsnoei, al bring dit soms verdriet –
(uit naakte botsels stulp die lewe nuut).
© Carma Shaw
08 Januarie 2018
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2018 - Weerbegin en voornemens projek