Jongste aktiwiteit:

Noudat gister verby is

Nóú wil sy weer haar eie lewe lei:
Weer dooie blomme vanaf takkies breek,
haar plante water gee (met voeding by),
voel hoe die dorings van ‘n roos kan steek,

verstom wees oor die kleur van nuwe groei
terwyl haar hande – deur die son gevlek –
bloeddruppels uit terloopse wonde bloei.
Sy wil bidgoggas in haar boom ontdek,

met bange vingers aan groen ruspes raak.
En voor die jaar tot bittereinde kom
die braakland omspit om ‘n tuin te maak,
sade saai en hul pamperlang tot blom.

Ouhout wegsnoei, al bring dit soms verdriet –
(uit naakte botsels stulp die lewe nuut).

© Carma Shaw
08 Januarie 2018




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed