Jongste aktiwiteit:

Kookwater

Kookwater, deur Stephan Uys

Ek is nie juis ʼn man vir bad nie. Vandag se badjies is nie gemaak vir manne wat hul vroue se spieëls volstaan nie – daar is net nie genoeg plek in die moderne badjies nie. Smaak my hoe droër die Kaap word, hoe kleiner word die baddens, en dan sit jy ook nog in jou eie vuiligheid! Ag nee, soos jy die vuil afwas, begin dit om jou te dryf soos brommers om ʼn bak gekookte kool. Ek voel vuiler na die tyd, as voor ek begin het. Nee bad is nie vir my nie. Ek is ʼn man wat hou van stort. Jy staan in skoon water wat van bo af die vuil afwas totdat dit onder in die drein verdwyn – die vuil klim nie weer saam met jou uit die stort uit nie. Ek het laas gebad op ʼn noodlottige dag by Neef tydens ʼn onlangse vakansie by die see. Daai episode het my weer laat besef dat bad iets is wat liefs vermy moet word – ek spuit dan eerder die ergste reuke met reukdoder dood, alvorens ek weer my voete in ʼn bad sit. Maar hierdie storie gaan nie oor my en my badgewoontes nie. Hierdie storie gaan oor my en Liefie en ons eerste stort saam.
Toe ek ʼn jongman was, het ‘soap on a rope’ groot aftrek gekry en was dit graag as geskenke gegee gewees. Toe begin die slim mense seep te bottel. Eers was daar sjampoe en seep kombinasies, vir die manne wat gym of jag en nie tyd of plek het om die stortgoed apart te karwei nie. Dit was handig gewees, maar dit het soos antiseptiese middels geruik. Toe begin hulle die sepe apart te maak en allerhande lekker geure daaraan te gee. Jy het vandag die keuse om soos ʼn blom, ʼn berg, ʼn waterval, ʼn klipkrans, of die oseaan te ruik, jy moet net die regte seep kies. Dit laat my wonder of alle vrouens die seep vir aroma terapie gebruik, en nie soseer vir die sepe se higiëniese kwaliteite nie. Jy sien, ek is vas oortuig Liefie gebruik die seep spesifiek net vir aroma terapie, en nie as seep nie. Liefie glo nie in die krag van seep nie, nee Liefie stoom haarself skoon. Ek onthou soos gister ons eerste stort saam. Ons was verlief en verlore en geld vir duur troues was daar nie. Ons het besluit om self alles te doen – van tafels opslaan tot koeldrank aandra en uitpak. Die oggend voor die troue het ek en ons twee se families die kerk en saal opgemaak en alles uitgepak soos Liefie in duidelike instruksies dit vir ons uitgespel het. Later die oggend, terwyl ek in die kerk wag op my pragtige bruid om haar ingang te maak, toe sweet ek soos ʼn onfiks slot na ʼn Currybeker finaal. Tussen die sweet en die trane deur is ek en Liefie toe getroud en ge-onthaal. Ons het so teen 3 uur die middag as pasgetroude egpaar op ons wittebrood vertrek. Ons het êrens op die Drakensberge by ʼn gesellige oorslaapplekkie oornag. Ek en my bruid het te heerlik aan die aandete geëet wat hulle vir ons voorgesit het, en toe het dit tyd geword om na ons liefdesnessie te gaan vir die nag. Soos dit op die TV gedoen word, het ek Liefie opgetel, die deur oopgestoot met my voet en haar in die vertrek ingedra. Soos pasgetroudes maar doen het ek gesukkel om haar weer te los, maar sy het ʼn rukkie later haarself uit my omhelsing losgewoel. Liefie het met ʼn skelm laggie en stoute oogknip in die badkamer verdwyn. Ek het die krane hoor oopgaan, en ʼn minuut of wat later het sy my geroep om saam met haar te kom stort. Daai aand sou Superman nog nie eers die telefoonhokkie se deur toegemaak het nie, toe staan ek al in my geboortepakkie in die badkamer. Nou het ek ook al so ʼn saamstortery op die TV en in films gesien, en my verwagtinge was groot… baie groot. Op die skerm is daar mos so ʼn effe van ʼn wasempie op die glaspaneel en die stortdeur, net sodat jy die lyf kan sien, maar niks detail nie. So ʼn PG13 rating. Soms as jy gelukkig is, kan jy dalk selfs PG16 gesien kry tydens so ʼn storttoneel. Ek het met ander woorde groot verwagtinge. Verwagtinge van PG18 en hoër, maar ek het nie toe geweet hoe lyk dit as Liefie stort nie. Haar stortery het geen PG rating nodig nie. Terwyl Superman nog soek vir die telefoonhokkie se handvatsel staan ek toe daardie aand soos ʼn gorilla in die mis en wonder waar het Liefie heen verdwyn. ʼn Dik miswolk hang in die vertrek, dit lyk soos ʼn rillerfilm toneel; ek verwag enige oomblik dat ʼn man met ʼn mes uit die mis moet gestorm kom. Al hoe ek weet dat ek in die badkamer is, is omdat Liefie my weer met haar verleidelike stem nooi om saam te kom stort. Ek loer stip in die rigting van waar ek vermoed haar stem kom, hopende om my eerste kykie te steel van my vrou in haar ontwerpers Eva-pakkie. Maar maak nie saak hoe stip ek loer nie, ek sien boggerall deur die mis. Ek vermoed dat nie eers Superman met sy superkykers sou hond haaraf maak in daardie miswolk nie. My bors wil half toetrek van die baie vog in die lug, maar plig kom voor plesier en Liefie roep! Ek storm vorentoe en slaan my voorkop so hard teen die toegewasemde stortdeur dat ek net sterre sien. Gelukkig is die wasem so dig die sterre kry skaars kans om te skyn. Na ʼn gevoelery en gevattery wat my laat skaam kry, het ek uiteindelik die stortdeur se handvatsel raakgevat. Teen die tyd dat ek die handvatsel kry, het die sterre verdwyn en ek is weer gefokus op die job wat voorlê. Ek pluk die deur oop en storm soos ʼn oorwinnende ridder die stort in. Liewe hel! Ek brand alles wat uitstaan en aan water raak dat daar amper blase daarop uitslaan. Ek kook amper my gereedskap so gaar dat ek bang is ek gaan hulle moet wegpak vir die res van my wittebrood. Ek spring terug asof ek deur ʼn slang gepik word, en slaan weer die stortdeur met die agterkant van my kop. Die heelal se sterreprag verskyn weer voor my oë, en ek moet my kop eers ʼn paar keer skud voor ek reg kan dink. Liefie nooi weer, maar die keer is ek baie versigtig. Ek loop so voel-voel na die stem in die wasem. Toe ek weer die water op my voel spat, begin ek ʼn reëndans onder die sproeikop te doen. Ek het Liefie nog met geen oog gesien nie, en ek vermoed ek gaan ook nie totdat sy uit die badkamer uit kom nie, so ek spat myself so nat moontlik en was die mees nodigste dele, sodat ek darem mooi skoon is vir die res van die aand se verrigtinge. Teen die tyd het ek al begin klimatiseer, en ek waag dit al om so vir dertig sekondes op ʼn slag onder die water te staan. Die probleem is dat Liefie skynbaar begin koud kry het, want terwyl ek nog so staan en water probeer spat op moeilik bekombare plekke, voel dit skielik kompleet of daar ʼn emmer brandende lawa oor my omgekeer word. Ek gil soos ʼn plaasvark op ʼn varkjag tydens kermis toe die water my tref. Dit is op hierdie tydstip dat Liefie deur die newels haar naakte opwagting maak om te kom kyk wat verkeerd is. Haar verskyning het my totaal en al laat vergeet van warm water en tools wat kook. Ek storm op haar af soos ʼn honger wolf, reg onder deur die kokende water. Vir die tweede keer die aand brand ek myself so erg dat dit voel of ek besig is om brekfis te maak. My vel is so teer gebrand ek is bang ek gaan my deposito vir die wittebrood moet terug vra. Liefie wil my nog nadertrek, maar ek maak haastig verskoning. Terwyl sy haarself verder skoon stoom loop soek ek room of salf om aan my werkende dele te smeer en te probeer red wat te redde is – daar is immers nog twee weke se wittebrood oor, en miskien is daar ʼn bad by die oord waar ons gaan bly…




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed