‘n Dag Sonder Jou
‘n Dag sonder jou
is ‘n leeftyd se verlang
dis herfs in Oktober
dis die son se strale
wat yskristalle vorm
in Desembermaand…
‘n dag sonder jou is
‘n eeu se onthou
want my verlang
is vir jóú my
Eva-vrou
©25/12/2018 Anton Bosch
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
See-Jay-El
Dis 'n besonderse beskrywing van verlange vir 'n sielsgenoot, daardie een waarmee jy jou hele menswees kan deel. Eva, in die skeppingsverhaal, was uit Adam gevorm. Adam het haar nie heel toevallig tussen al die ander skepsels wat hy moes benoem gevind nie, maar God het haar na Adam toegebring en haar aan hom gegee. "want my verlang is vir jou my Eva-vrou" sê by implikasie, dat die verteller verlang na daardie spesiale persoon, wat vir hom bedoel is, soos God dit reeds by die grondlegging van die wêreld bedoel het. Die beelde wat hier gebruik word intensifiseer die diep begeerte en verlange na hierdie persoon. "dis 'n leeftyd se verlang," impliseer dat die verteller al vir 'n hele leeftyd wag vir sy Eva en andersom is nog 'n dag sonder haar soos 'n leeftyd se wag. Ek kan nie anders as om te dink aan: "een dag soos 'n duisend jaar en 'n duisend jaar soos een dag." Hierdie gedagte word weer herhaal in "'n dag sonder jou is soos 'n eeu se onthou". Maar hoe diep is hierdie laaste aanhaling nie. Om een dag sonder jou te wees is soos om te onthou hoe dit is 'n leeftyd, 'n eeu sonder jou, my Eva, te wees. Ek kan nie help om die halwe hart in die gedig se druk op te merk nie, Dit vertel dat die verteller die ander deel van sy lewe innig mis, sonder daardie perfekte Eva stuk wat pas het hy net 'n halwe hart. Weer 'n meesterstuk!