Die legkaart
Die legkaart
Sy staar na die legkaart. Iets is nie reg nie. Dis duidelik dat dit op die tafel geplaas is om die wagtende pasiënte en besoekers besig te hou. Daar is egter geen prentjie van hoe die voltooide stuk moet lyk nie. Knip haar oë, kyk weer. Die stukkies lê steeds deurmekaar oor die tafel gesaai. Sy probeer ʼn prentjie met die verskeidenheid kleure in haar gedagtes vorm, maar haar kop is te vol van die rede waarom sy vandag in die dokter se spreekkamer sit: sy is ongetroud en swanger. Geen wonder dat ʼn prentjielose legkaart nie haar aandag kan hou nie.
Ineens vang haar oog beweging. Sy kyk stip, ongelowig. Die legkaart neem stadig maar seker vorm aan. ʼn Voorkop verskyn, oë, leeg en starend, ʼn neus, die mond ʼn gapende donker opening. Sy kyk na die ander persone in die wagkamer. Elkeen is besig om die tyd op ʼn ander manier te verwyl. In die een hoek speel kinders met boublokkies, twee krulkopdogtertjies kleur in by ’n tafeltjie. Niemand steur hulle eers aan haar of die uitgespreide stukkies karton op die koffietafeltjie nie. Sy kyk weer. Die gesig is nou duidelik sigbaar. Met ʼn kloppende hart probeer sy sin maak, beter konsentreer. Dit is mos absurd!
In haar kop hoor sy ineens ʼn diep manstem. “Bou ʼn huis,” fluister die stem in haar brein.
Is sy besig om die kluts kwyt te raak? Die absurdheid van die situasie tref haar. ʼn Pratende masker! Sy kyk weer om haar rond. Niemand anders het iets gehoor nie, elkeen se aandag is steeds op hulle eie bedrywighede gefokus.
“Bou ʼn huis,” kom die ferm fluistering, nou dringender.
Sy lig haar hand, beduie met haar wysvinger na haar bors, haar oë vraend.
“Ja, jy, Amelia. Bou ʼn huis.”
Hy ken haar naam! Bewend-gedwee skuif sy nader aan die tafeltjie. Bou ʼn huis, uit ʼn deurmekaar legkaart, sonder ʼn prentjie? Sy staar na die gekleurde kartonstukkies voor haar.
“Bou die prentjie wat in jou kop is.” Sy skrik, want die stem klink so werklik. Tog het net sy dit gehoor!
Asof in ʼn droom begin sy die stukke deurmekaarskuif, op soek na ʼn kleur of ʼn hoek om mee te begin bou. Die prentjie verskyn ineens in haar gedagtes: ʼn huisie, groot genoeg vir haar en haar ongebore baba – en dalk ʼn man? – naby ʼn rivier. ʼn Gesellige plekkie met ʼn heining en ʼn swaai. En … nee wag, sy moet hierdie vergesogte droom hokslaan. Sy konsentreer eers weer op die legkaart voor haar. Die bouery gaan al hoe vinniger, asof haar hande ʼn wil van hulle eie het.
Toe dit tyd is vir haar afspraak, is sy verbaas om te sien dat sy ʼn perfekte huisie gebou het. Met legkaartstukke wat nie eers bymekaar pas nie en sonder patroon. Merkwaardig! Absurd!
Amelia stap na die dokter se spreekkamer. Sy loer uit die hoek van haar oog na die tafeltjie. Van die jong kinders staan gebukkend by die tafeltjie. Nee! Hulle gaan haar huisie afbreek en wat gaan die Stem dan sê? ʼn Gevoel van besitlikheid teenoor die legkaarthuisie oorweldig haar. Sy kyk vir ʼn laaste keer daarna. Die legkaart se deeltjies lê deurmekaar op die tafel, presies net soos voordat sy begin bou het. Daar is geen teken van ʼn geboude huisie nie!
Verward stap sy deur die spreekkamer se deur. Die dokter sien die verwarring vir vrees aan en begin sommer dadelik trooswoorde uiter.
“Toemaar, Amelia, ek sal mooi na jou kyk. En as jou tyd kom, is ek seker ons sal ʼn oplossing vir al jou probleme ook kry. Vertrou my net. Buitendien, daar is nog ʼn hele sewe maande oor.”
Sy knik haar kop, luister net halfpad na die dokter se geduldige stem. Haar gedagtes is by wat by die tafeltjie gebeur het, by Die Stem. Is sy besig om haar sinne te verloor? Doen swangerskap dít aan ʼn mens?
Die maande gaan soos ʼn droom verby. Amelia se babadogtertjie ontwikkel pragtig. Sy bly nou in ʼn tehuis vir ongehude moeders. Vir die oomblik is sy veilig, maar die toekoms is steeds duister. Haar gedagtes is dikwels by die legkaarthuisie. As haar legkaartprentjie maar waar kan word!
Die Stem swyg egter.
Die eerste geboortepyne oorval haar met middernag. Daarvandaan gaan dit vinnig. Klein Rientjie is gebore sonder enige probleme en na twee dae is Amelia en Rientjie vir eers terug by die tehuis.
Die eerste maand is verby. Sy is moeg, alleen en depressief. Slegs die kleine Rientjie se warm babalyfie bring ʼn bietjie vreugde in haar saai lewe.
Terwyl haar baba slaap, soek sy iets om te doen wat haar negatiewe gedagtes sal besig hou. In die sitkamer op die rak ontdek sy ʼn legkaart. Haar hart gaan aan die bons. Die prentjie op die boks se deksel is ʼn pragtige huisie op ʼn rivieroewer. In die tuin is ʼn swaai met ʼn fraai blondekop dogtertjie. Sy snak na haar asem. Dit kan nie wees nie; dit is dan háár prentjie, die een in haar kop, haar droom van ʼn gelukkige huisie!
“Pak in,” hoor sy skielik die Stem in haar kop fluister.
Wat? Sy kyk verskrik om haar rond. Sy is alleen in die sitkamer. Alles lyk rustig en normaal.
“Pak jou en Rientjie se klere in, ek het julle kom haal. Julle is myne.”
Asof in ʼn droom stap Amelia kamer toe, maak die kas oop en haal haar tas uit. Asof iets haar jaag, gooi sy haar paar stukkies klere in, gevolg deur Rientjie se klere. Die doeke word inderhaas in ʼn doekesak gedruk. Vir ʼn oomblik kom sy tot bedaring. Sy is sekerlik mal, skiet die gedagte vlugtig deur haar brein. Maar sy wil nie nou verder dink nie, wil nie meer omgee nie.
“Maak gou, Amelia. Anders gaan dit te laat wees.” Die Stem klink effens ongeduldig.
Steeds in ʼn dwaal maak sy Rientjie warm toe en tel haar in die drasak voor haar bors. Sy tel die tas en doekesak op en stap soos ʼn slaapwandelaar by die deur uit …
Die son skyn helder deur die groot kamervenster. Die kamer is pragtig, net soos sy dit sou wou hê. Langs die bed is die fraaiste bababedjie met Rientjie rustig aan die slaap daarin. Verward kom sy orent.
Hy kom by die deur ingestap, ʼn koppie koffie in sy hand, ʼn wye glimlag op sy aantreklike gesig. Iets aan sy gesig lyk bekend, maar in haar verwarde brein is geen sinvolle antwoord nie.
“More, my beminde. Hoe voel jy vanoggend?” Die bekende diep basstem het ʼn warmte in.
“Wie … wie is jy?” Amelia snak na haar asem en probeer haar bonsende hart tot bedaring bring. Sy kom stadig in ʼn sittende posisie op die weelderige bed.
“Ek is die man wat my hele lewe al vir jou wag. Ek het deur tyd en ewigheid gekom om jou my vrou te maak. Welkom tuis hier in jou droomhuis.”
Dan herken sy hom: inderdaad die man van haar drome, hier in die huis van haar drome.
©Bets Koen
Februarie 2019
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.