Jongste aktiwiteit:

HOOFLETTERS IN ROOI

HOOFLETTERS IN ROOI

Die rooi hoofletters verwond haar teer gemoed. Dit voel asof daardie rooi skrif deur hul skoenlapperligte-verhouding sny. In die agtergrond is ‘n baba wat huil, ‘n kind wat skreeu en ‘n hond wat blaf. Die gedagte aan ‘n swak ma wees, lê vlak en rou.

Dat rooi pigment, die nakomeling van gehidrateerde ysteroksied en karmynrooikewers en wat se simboliese waarde van haat tot liefde strek, nou ‘n vrou so kan ontstel? Marinda is so vies oor die hoofletters dat sy sommer die hond verskree. Tot haar eie rooi gelaat, staan haar vriendin by die tuinhekkie toe sy opkyk. Sy sluit die hekke vir haar vriendin oop en na ‘n druk en ‘n innooi-uitnodiging, val Marinda met die hele sak patats uit.

“My baas het vir my nounet ‘n e-pos gestuur waarin hy my vrae met rooi hoofletters beantwoord het. Ek voel asof ek emosioneel bloei, want hy het op my geskree.”
“Omdat hy in hoofletters getik het? Dalk was sy Caps Lock aan?”
“Watter mens tik in hoofletters? En hy van alle mense behoort te weet dat hoofletters in vandag se konteks dieselfde as skree beteken.” Die benoudheid, selfs skok, is hoorbaar in Marinda se stem.
“Dalk is hy net besig en het dit nie so bedoel nie. Jy het self gesê Ben het jou nog altyd goed behandel?,” probeer Elizna troos.

Marinda waardeer dat haar vriendin haar tot nuwe insigte probeer bring, maar sy kan steeds nie die ongemak afskud nie. Elizna ken Marinda egter goed genoeg om elke gesigsuitdrukking akkuraat te vertolk, daarom vra sy wat haar eintlik pla.

“Ek is net sensitief vir klank. Almal wil skree, almal het frustrasies – van die hond wat genoeg gehad het van die posman wat op-en-af ry tot Sussie wat haar fopspeen soek en dit voel asof ek in die middel van die gedruis staan. En rooi! Van alles, moet hy in rooi getik het. Die kleur van te min geld in die bank, die kleur van die matador se vlag, die kleur van ‘n stopteken. As geraas ‘n kleur het, moet dit rooi wees,” brei Marinda haar monoloog uit voordat Elizna haar onderbreek.

“Rooi is darem ook die kleur van liefde, blomme, Kersfees en Lindt-melksjokolade?” probeer die lang vrou met die helder pienk knierok troos.

“Ja, dis seker omdat dit toevallig die algemeenste soenoffer na ‘n bakleiery is?” sê-vra Marinda retories. “Die groot probleem is dat hy dit in rooi en hoofletters geskryf het. Dit sê dat hy so geïrriteerd is dat hy wil seker maak ek neem kennis. Dit voel asof ek ‘n final warning gekry het, en ek het so lekker gewerk.”

“Het jy ooit gelees wat hy geskryf het?” Elizna was nog altyd die logiese denker tussen die twee van hulle. Danksy haar vrae kon Marinda al baie slotte in haar eie menswees oopsluit en die geraamtes wat binne die kaste van haar siel skuil, vrylaat.
“Nie regtig nie,” antwoord Marinda haar vriendin. “Hy het my net so ontstel toe ek die e-pos oopmaak. Ek het my simpel geskrik. Ek voel soos ‘n stout kind wat oor die vingers getik word.”
“Dis verstaanbaar,” simpatiseer Elizna en laat die stilte hang.
“Hoe so?” vra Miranda. “Watter insig het jou dit laat besef?” Miranda klink asof sy dorstig soek na die verklaring oor die emosie wat sy ervaar.
“Navorsers het onlangs bevind dat rooi implisiet assosieer word met faal en foute. Hulle het ook bevind dat dit die assessor se houding al gerig word wanneer die rooi pen opgetel word. Maar dalk moet jy jou baas bel en hoor wat sy motief of omstandighede was? Dis nou as jy dit met ‘n gewone baas sal doen soos daardie merrie waarvoor jy die laaste keer gewerk het.”
Marinda frons. “Die konteks verskil totaal. Sy was ego-sensitief, sy sou persoonlik aangevat voel as ek haar vra hoekom sy vir my in rooi hoofletters skryf. My selfs aankla van insubordinasie en ‘n waarskuwing gee. Nou werk ek lekker. Die atmosfeer is baie meer gespanne en vandaar die groot skok oor die rooi hoofletters.”
“Al verskil jul organisatoriese kultuur, is daar steeds ‘n bottom line. Ben het waarskynlik dieselfde kwellings as wat daai vrou gehad het. Ook beknopte spertye.”
Marinda rol haar oë.
“Of dalk is sy gunstelling kleur net rooi?” probeer Elizna ‘n eenvoudige verklaring bied.

Henri die kleuter kom skreeuend nader. “Mamma, waar is my rooi trok? Ek soek my rooi trok.”
“Ek weet nie waar jou trok is nie!,” skree Marinda vir haar vierjarige. Sy voel dadelik skuldig. “Ek gaan hom vra, dit vreet my en nou lyk ek soos ‘n monster.”
Haar vriendin staan op en sê sy gaan die ketel aan sit vir rooibostee met die klem op ‘rooi’. Marinda knor gemaak kwaai en tel haar selfoon op.

Toe Elizna terugkeer met ‘n skinkbord, nadat sy vir Sussie ‘n fopspeen gegee het, Henri se rooi trok gevind het en die vir die posman aanwysings gegee het, vind sy vir Marinda met ‘n groot glimlag op die rusbank.

“Jy was reg. Hy het nie bedoel om te skree nie. Ek moes geweet het, want ek het Ben nog nooit voorheen erg kwaad gesien nie. Hy sê hy wou net gehad het sy antwoorde moet uitstaan. Hy het ook gesê hy sit geen tussen-die-lyne-lees-teks in nie. En jy was reg, sy gunsteling kleur is rooi. Ek moes dit geweet het, die firma se logo is immers rooi. Maar ek hou niks meer van rooi nie. Dit lei tot kommunikasiegapings en vieswees.” Marinda vou haar arms gemaak vies.

“So ek kan jou rooi leerskoene kry?” vra Elizna hoopvol.

“Se dinges. Ek is net nou so bietjie oor rooi – net vir ‘n rukkie,” las Marinda by.

Die hond blaf toe ‘n koerierdiens by die tuinhekkie stilhou. ‘n Man met ‘n bos rooi rose klim uit die voertuig. “Is mev. Crimson hier? Ek het ‘n aflewering vir haar van mnr. Van Rooijen.”

Elizna glimlag. “Marinda, jy sal moet vrede maak met rooi. Dit lyk of dit jou voorland gaan word.”

Marinda teken haar naam en van in blokletters en besef opnuut, soms is hoofletters regtig sonder klank.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed