Pappa, koffie – is dit ʼn Dreyer ding!
“Pappa, vanoggend terwyl ek so besig is om my moerkoffie in my dompelkoffiepot voor te berei, sien ek jou gesig skielik duidelik voor my. Jou leeragtige, songebruinde, geplooide gesig, jou flets blou oë, laggend. Ek sien hoe jy my vraend aankyk. So met ʼn vraagteken in jou oë. Ek besef dat daardie vraagteken die vraag inhou – ‘my kind wat maak jy? Dit ruik soos koffie? Maar daardie kontrepsie waarin jy dit maak verstaan ek glad nie.’
ʼn Glimlag het om my mond homself kom tuismaak met ʼn warm goed-voel-gevoel. Ek het my beker koffie geskik. So beker in die hand oppad na my kamer het ek bly glimlag en gewonder wat jy wie so lief was vir jou koffie oor die ontwikkeling in koffie maak metodes sou kwyt raak.
Van my laaste herinnering aan jou, het vlak in my hart kom nestel. Jy ʼn man wat nie net bedags byna elke uur ʼn koppie koffie geniet het nie, maar ook saans met jou vrekvryestaal Stanley koffiefles kamer toe is. Jy was ʼn man wat geen ander drinkgoed, soos ons Namakwalanders dit noem, geniet het nie. Nie water, koeldrank, wyn, bier of selfs tee nie. Koffie, dit was jou gekose drinkding. Of dit nou twee en veertig grade of twee grade was.
Die enigste ding wat jou van koffie geïrriteer het, was wanneer jy koffie gemaak het en die kettel moes uitspoel. Dan het die koffiemoer so hardnekkig in die wasbak bly klou. Dan het jy vererg dit gespoel en gespoel. Maar altyd was daar die bittereinder paar moertjies wat net nie wou wegspoel nie. Wat was jou vreugde groot toe die koffiesakkies op die mark gekom het.
Skoon opgewonde het jy daardie eerste kan koffie gemaak met die sakkies, en ewe kordaat die sakkies agterna in die vullisdrommetjie laat val. Met ʼn ‘wha-la, dit is mos nou makliker’. Jy het daardie selfvoldane uitdrukking op jou minsame gesig gehad, van ʼn man wat sy grootste probleem oorkom het.
Dit is wanneer ek besef het, jy sou dalk van die dompelkoffiepot idee gehou het, maar van die agterna se skoonmaak definitief nie. Al wat ek ter verdediging daarop te sê het pappa, is: “Jy sou die legio van verskillende geure koffies wat jy daarmee kon drink so verskriklik geniet het.”
Op soveel warm dae het ek al aan jou woorde gedink as ek jou gevra het “hoe kan pappa op so ʼn warm dag koffie drink, dit maak mens net nog warmer!” “Nee, my kind jy het dit daar heel mis. Dit werk so, jy moet warm goed drink as dit so warm is, dan koel jy van buite af as jy sweet.” Natuurlik het dit nie toe sin gemaak nie en maak nou nog nie sin nie, tog bring dit steeds ʼn glimlag om my mond.
“Pappa, net so tussen ons, ek dink koffie drink is oorerflik! Ek hoor jou luidkeels lag oor daardie stelling van my. Ek kan dit bevestig . . . ek drink net so graag koffie soos jy, en swart. Nog verder het ek ʼn seun wat net so koffie mal is soos ons albei. Hoe verklaar jy dit as dit nie oorerflik is nie?”
Ek sien jou glimlag, met daardie uitdrukking op jou gesig – regtig my kind, regtig, luister na jouself.
“Anders is dit seker ʼn Dreyer-ding. Ek het ʼn paar maande gelede nog ʼn Jasper Jurie Dreyer Nieuwoudt raak geskryf. Al is sy van nou nie Dreyer nie, hardloop die koffie ook dik in sy are. Pappa sou dit so geniet het om hom te ontmoet. ʼn Namakwalander in murg en been, is die oom van my. Hy is nou van sy oumagrootjie se kant af familie van ons, sy was ʼn nooi Dreyer en van daar sy name. Net soos ons vrek hy oor familie, en oor die Dreyers. Hy het my terug gevat op ons spore, daar waar pappa my geneem het toe ek maar net nege jaar oud was. Terug na die familie plase in die Namakwaland, ons het oom Johannes en Hondjie se grafte gaan kyk, daar op Dikdorings rondgeloop. So in my geeste oog het ek oom Johannes, pappa en Hondjie op die stoep sien sit met die bekers koffie. Die tannie sien uitkom en so onder die kappie uit hoor vra ‘julle eet hier vanmiddag Jasper, dit is maar net kerrieafval en koring’.”
“Magtig, suster, dan is dit mos koningskos, definitief eet ons hier,” hoor ek jou antwoord.
“Hy het my na die kleinseun van oom Johannes, Jaspertjie, wat die plaas geërf het geneem. ʼn Aangename man, so bietjie ouer as ekself. Definitief ʼn Dreyer, dit kan jy aan sy praat hoor.
Oom Jasper het my ook al die plekke waar ons aangery het om koffie te drink, gewys. Verder het hy my vertel van die mense waar ons was toe ek ʼn dogtertjie was. Die Goosens van Soebatfontein, sy eie oompie Mias Nieuwoudt wat die ou winkeltjie gehad het, oom Jaap Dreyer se plaas. So het ons hulle een vir een bespreek, telkens gestop, koffie gedrink en van die ou dae gepraat.
Ons het vir byna ʼn week elke aand tot byna twaalfuur gesels oor die Dreyers en Namakwaland, ons was net nie op Baievlei nie.
Pappa die jare het verby gevlieg van toe ek sestien was en jy ons so onverwags verlaat het vir die hemel. Nou is ek byna sestig, dankbaar en gesond. Ek het in oom Jasper ʼn tweede pa-Jasper gevind, nooit sal hy jou plek kan inneem, maar dit is die naaste wat ek aan jou sal kom, hierdie dierbare mens. Soveel dinge het in my lewe gebeur, maar een ding bly staan, ek bly nog mal oor koffie, net soos jy. Telkens as ek daardie dompelkoffiepot so afdruk en die geur van die vars koffie kry, dink ek aan jou en jou groot liefde vir koffie en vir my.”
©Marsofine Krynauw
30 November 2019
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
AïDA STOWIK
Dankie Marsofine vir die deel van herinneringe. Somtyds deel my ma ook paar name en plekke. Ek het so bietjie stamboom gedoen met die klein stukkie tot by jou en jou pa. Ek hoor graag meer. Ek het ook graag as kind by jou gaan koffie drink. Was altyd baie lekker kuiertjies.groete