Pa, soms onthou ek nog . . .
As die noordweswind so winterkoud waai
dan sien ek weer hoe sit jy by die kers
met die groot boek, wat rustig op jou skoot lê
en hoor ek weer jou stem se klank in vers.
Pa,
soms sien ek daardie ruiter met die afkop
op sy skimmelperd so reguit uit die hel
en vlug ek ook soos Amakeia,
verdrink ek soos ‘n kind ~ soos Mabalel.
Ek verdwaal nog in die sneeu en ysig weer,
net soos ‘n jonge Racheltjie ~ ‘n Racheltjie de Beer.
Die blare in jou hand, wil ek weer sien, Pa
jou Hantamsrus, dié wil ek weer vind
en die soetste woorde oor jou lippe hoor
as dit “tula, tula . . . stil my kind”.
© C. Shaw
27 Mei 2016
* Met verwysings na onderstaande gedigte
Amakeia ~ A.G. Visser
Mabalel ~ Eugene Marais
Die ruiter van die Skimmelperdpan ~ A.G. Visser
‘n Hand vol gruis uit die Hantam ~ C. Louis Leipoldt
Racheltjie de Beer (Sneeuwitjie van die veld) ~ A.G. Visser
4 Kommentare
-

KOBUS SMITH
Ek hou van dit Anze. Sterkte.
-

KOBUS SMITH
Ek hou hiervan Viooltjie. En toe maak ek fout met die naam!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
dis pragtig!