Jongste aktiwiteit:

Die lewe se mooi (Silwer 522 woorde)

Wanneer die natuur begin ontwaak uit sy winterslaap, is daar ‘n soort “magic” aan’t gebeur. Die aarde verkleur van vaal en dood in die mooiste vrolike “Aaaaah, kyk hoe mooi!” kleureprag. Mens hoor dit selfs in die voëlgesang vroegoggend. Daar is ‘n nuwe opgewektheid in hul groet.
Gaan stap jy deur die strate wat onlangs nog vaal en lusteloos vertoon het, merk jy nou oral bome wat besig is om hul groen jassies aan te trek, en met die mooiste, helderkleurigste blommehoed spog, gras wat groentrots voor huise met skoongewaste vensters pronk.
Hoe kan mens dan anders as om vrolik te voel saam met die natuur?
Mens sien hoe die voëltjies gretig en ywerig nessies begin bou. Dit is omtrent ‘n gewoel en gewerskaf soos hulle rondfladder, grassies soek en beplan watter takkie die beste vir nul nessie gaan wees.
Het jy al ‘n voëltjie dopgehou wat ‘n nessie bou? Hulle raak nie moeg nie, gee nie moed op voordat die nessie 100% perfek is nie. Selfs al kom die wyfie, na ure se rondvlieg en werk en weef met die bekkie, en ruk die nessie uitmekaar, dan gaan soek die mannetjie maar gedulig ‘n ander takkie en begin die hele proses van voor af. Dit is uithouvermoë!
Ons het so baie om te leer by die natuur en die natuur het beslis ‘n groot invloed op ons gemoedstoestand. As ons dalk meer stil raak en kyk en luister, sal ons dalk beter insig kry in wat werklik saak maak in die lewe en waarop ons eintlik veronderstel is om te fokus.
Gaan stap gerus deur die veld, daar is niemand wat dit gereeld skoffel of bewerk nie, tog sien jy oral die mooiste veldblommetjies kop uitsteek, veral in April/Meimaand hier in Gauteng en dan weer rondom Augustus langs die Weskus af. “God se Tuin,” noem die mense dit. Poeding vir die oog.
Maar agter al hierdie mooi lê ‘n seisoen van rus en herstel – winter. Dit is ‘n noodsaaklike seisoen. Na die dooie droogte en vaalheid bot daar altyd weer nuwe lewe. Na elke struikelblok staan mens weer op, stof die vuil af en gaan weer voort.
“Die lewe is mooi, die lewe is goed, die lewe is maar net wat jyself daaruit soek.” ‘n Rympie wat ek graag op skool in my vriendinne se onthou-boekies geskryf het wanneer hulle verjaar of aan die einde van ‘n skooljaar. Ek wonder of kinders vandag nog op skool sulke onthou-boekies het?
Die lewe is oor die algemeen onvoorspelbaar. Omstandighede is nie vir ons om te beheer nie. Ons maak net keuses hoe om dit wat oor ons pad kom te hanteer. Kom ons leer by die natuur en wys ons mooi kant vir die lewe en ander om ons.
Bot waar God jou geplant het en wees die mooiste, vrolikste blommetjie in Sy veld. Wanneer die winter verby is, laat toe dat die lenteseisoen se nuutbegin ook in jou binneste posvat. Stof af al die spinnerakke en trek die vaal jassies van kommer uit. Maak die vensters wyd oop en adem die nuwe lewe van ‘n nuwe seisoen met oordadigheid in.
©Driekie Grobler




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Arnold het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Arnold het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Arnold het ‘n nuwe publikasie gemaak