Jongste aktiwiteit:

Die Groot Vis-en-Mayonnaise-Oorlog van 1987 (807 woorde)

Dit het alles begin toe iemand onlangs skaamteloos kla oor hulle kind se skoolkonsert wat kwansuis ’n “flop” was. Ek moes dadelik binnensmonds lag. Hulle weet duidelik nie wat ’n skoolkonsert-katastrofe is nie. My gedagtes het onmiddellik teruggeflits na 1987, toe ek ’n onskuldige Graad 1-meisie in die B-klas was. In daardie dae was daar nie iets soos “politieke korrektheid” of “skending van regte” nie. Mense was biologies beskrywend.

Dit bring ons by die sterre van Standerd 2A: Klein Boetie en Dik Drika.

Klein Boetie het sy naam gekry omdat hy fisies soos ’n dwerg-Graad 1 gelyk het; niemand het sy regte naam geken nie. Dik Drika, aan die ander kant, het die statuur en teenwoordigheid van ’n Standerd 5-rugbystut gehad. Die twee was ook amptelik “gekys” – ’n outokratiese verhouding waarin Dik Drika die absolute diktator was en Klein Boetie in konstante vrees vir sy lewe geleef het.

Standerd 2A se tema was ’n kulinêre meesterstuk: hulle moes op die verhoog ’n vis-toebroodjie bou. Die rolverdeling was wreed maar logies vir 1987.

Klein Boetie was die enigste siel wat klein genoeg was om in die vis-kostuum te pas. Dit was ’n lyf-stywe eenstuk-baaikostuum wat van onder af opgetrek moes word. Sy skurwe, skraal beentjies het soos twee vuurhoutjies onderaan uitgesteek. Sy gesig het feitlik verdwyn in ’n reuse, pluisagtige wolk van sintetiese wol wat die viskop gevorm het, met wankelrige vinne by sy skouers, nek en stuitjie. Hy het gelyk soos ’n depressiewe sardien.

Dik Drika was die mayonnaise-bottel. Nie per keuse nie, maar omdat sy die enigste kind in die distrik was wat die mayonnaise-bottel-kostuum kon vul – en selfs dít was ook maar net-net. Waar Klein Boetie s’n soos ’n vadoek aan hom gehang het, het Drika s’n gestrek tot by die absolute breekpunt van die nate.

Die res van die klas het die lae gevorm: twee bleek kinders as die snye brood, gekruide ekstras as blaarslaai, tamatie, ui, komkommer en ’n stewige sny geel kaas. Die gehoor het reggesit vir ’n kulinêre sukses.

Die drama begin toe die groente en brood reeds strategies op die verhoog geposisioneer is. Klein Boetie, die vis, staan stip in die middel. Toe waggel Dik Drika op in haar glorieryke, strakgespande mayonnaise-bottel.

Hulle moes ’n kort dialoog voer, maar Klein Boetie tref ’n blanko kol. En moker sy reëls heeltemal mis.

Die temperatuur in die skoolsaal het onmiddellik met tien grade gedaal. Dik Drika se gesig het verander in ’n donderwolk van pure woede. Klein Boetie, wat haar sielkundige profiel goed geken het, het dadelik besef sy vonnis is geteken. Paniek het in sy oë ingeskop. Hy was vasgevang – links van hom was ’n ui en’n komkommer, agter hom die kaas, en regs van hom ’n naderstormende, briesende suiwelproduk.

In ’n oomblik van pure desperaatheid besluit Klein Boetie om ’n volledige Patrick Swayze te gooi. Hy kies koers na die rand van die verhoog vir ’n dramatiese Johnny Castle-sprong direk in die middelpaadjie van die gehoor in.

Dit was egter nie Dirty Dancing nie. Dit was ’n nasionale ramp.

Klein Boetie het gespring, swaartekrag skandelik verloor, sleg neergeval, en soos ’n gewonde rob op sy knieë vorentoe begin kruip terwyl hy wild oor sy skouer kyk.

Maar die mayonnaise het toe eers stoom opgetel.

Dik Drika het gelanseer. Sy het hoog deur die lug getrek – arms wawyd oop, haar mond in ’n lyn van absolute vasberadenheid. Sy het nie geval nie; maar het eerder met die impak van ’n meteoriet solied op twee voete in die paadjie geland.

Toe Klein Boetie die donderende knal van haar landing hoor, het hy opgespring en gehardloop vir sy lewe, reguit na die dubbeldeure aan die agterkant van die saal.

Die klankbaan van daardie jaagtog sal my altyd bybly. Klein Boetie se vuurhoutjie-beentjies het teen ’n verbete spoed gegaan: toef-toef-toef-toef-toef. Reg agter hom het Dik Drika gekom. Swaarder, ritmiese, vernietigende treë wat geklink het soos die naderende dood: DOEF… DOEF… DOEF. ’n Dik, blou aar het soos ’n kwaai erdwurm op haar voorkop gebult.

Ten spyte van sy voorsprong het Dik Drika hom met die grasie van ’n jagluiperd ingehaal. Hy was letterlik net buite die saal toe sy hom van agter beetkry.

’n Enkele, bloedstollende angskreet het uit die viskop gekom.

En toe… doodse, ysige stilte.

Binne-in die saal kon jy ’n speld hoor val. As dit biologies moontlik was, het die blaarslaai en die tamatie op die verhoog sigbaar begin verlep van die trauma.

Die arme onderwysers het later probeer om die revue voort te sit, maar die gehoor se gees was gebreek. Klein Boetie en Dik Drika het ná die tyd geweier om ’n enkele woord te uiter. Niemand weet tot vandag toe waaroor die argument gegaan het, of watter sielkundige oorlogvoering buite daardie saaldeure afgespeel het nie.

Ons weet net een ding vir seker: daardie vis-toebroodjie is nooit gemaak nie.

—oooOooo—

© Ilana Oosthuizen, 2026




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed