Jongste aktiwiteit:

Arme Jan (Silwer 390 woorde)

“Daar was ‘n man, sy naam was Jan,” so begin baie kinderstories. Dit maak ook ‘n mooi rympie. Vele liedjies is al geskryf oor hom, soos “Jan, Jan, Jan, die bielie van die Bosveld.” Grappies is gemaak en spreekwoorde het daaroor ontstaan. ‘n Algemene naam, waaragter ‘n ryk geskiedenis lê.
Lank, laaaank gelede, was daar ook ‘n Jan wat na máánde op see voet aan wal gesit het aan die Suidpunt van Afrika. “Hallo, Afrika, ek is Jan,” het hy homself seker voorgestel met drome in sy oë en vele planne in sy kop om van hierdie woeste, leë, ongerepte land ‘n vooruitstrewende spogland te kom maak.
Jan was beslis nie lui nie, hy het gewoeker en gewerskaf, planne gemaak en huise laat bou, groente geplant en wingerde laat aanlê. Hy het reëls en wette gemaak, sodat orde gehandhaaf kan word. Gou was daar ‘n hele gemeenskap wat floreer het, van skool tot kerk. En so het hy voortgebou, ook sy nageslag, en hulle nageslag, en hulle nageslagte (tot waar dit ons insluit) om hierdie pragtige sonskynland op te bou en te laat floreer. ‘n Groot land met oorgenoeg plek vir almal wat gekies het om dit hul tuiste te maak.
Maar toe gebeur “en toe …” en daarna nog meer “en toe’s” en later nóg meer “en toe’s” totdat die papaja die waaier tref en jy net pitte en oranje pap sien spat.
“En toe, wat gebeur toe?” wil jy seker nou vra.
Toe, my liewe vriend/vriendin, begin die grappies floreer. Vingers word gewys na arme Jan, en alles wat verkeerd gaan word voor sy deur gelê. ‘n Groot mishoop wat alle redelikheid versper. Hy kry die skuld vir maagpyn en verstopte dreine, vir onmin en slapelose nagte. Sommiges dink dis snaaks, ander kry maagsere en skree oorlogskrete.
“Dis Jan se skuld dat ons nou hier in die 20ste eeu sukkel met alles!” “Dis Jan se skuld dat daar beurtkrag is en gate in die paaie waar dit veronderstel is om gelyk te wees, sodat ons kommer- en vreesloos daar kan ry. En dis sý skuld dat daar nié gate is waar gate moet wees nie, sodat ons versoeningspale vir vooruitgang kan plant, want honger mense moet kos kan kry en dakloses huise.”
Klink dit vir jou bietjie sinloos en deurmekaar? Toemaar, vir my ook.
Maar íemand moet seker die skuld kry … arme Jan!
©Driekie Grobler




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed