Dalk … net dalk …
Met gehunkerde oë
hou grootjies die ingang dop
afwagting kom kuier diep
in hul harte soos van ouds
maar tyd stap stadig aan
met geen geliefdes in sig
dan doen teleurstelling skielik
’n vreugdevolle dans
vat pos en sprei uit
na elke hoekie van hul vlees
traanskerwe word dan stil-stil
in die lydensbeker opgevang
met geknakte hoofde
besin hul hul seer
die rou van vandag se harteleed
folterklem hul brose harte
en slaan diep sy kloue
in hul gemoed
gekreukelde flenter lappie
word bewend ingespan
om die lydensbeker versigtig
weer mooi uit te droog
want … more bring hoop
die verwagting saam met haar
want dalk … net dalk …
sal hul geliefdes more aan hul dink
want dalk … net dalk …
sal hul geliefdes more ’n wyl by hul verwyl
want dalk … net dalk …
oorbrug liefdesbande die kloof tussen hulle.
© Taai Bonthuys
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.