Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die Dag van die Dooies

Deur Ano
Datum gepubliseer: 14 Oktober 2021 Aantal woorde: 895 75 Kere gelees 6

(997 woorde)

Vir die deursnee Westerling is die Mexikaanse tradisie, Die Dag van die Dooies, ofte wel, The Day of the Dead, niks anders as bisar en selfs grillerig nie. Tog is dit in dieselfde oomblik is dit ook bewonderenswaardig omdat hulle sonder skaamte die herinneringe van hul afgestorwenes lewendig hou. Anders as die Westerling wat graag wil begrawe, vergeet en nooit weer daaroor praat nie, vier hierdie mense die dooies se lewens en herinneringe op ʼn spesifieke datum baie openlik.

Dit is nie ʼn begrafnis nie, dit is nie morbied nie, en dit is nie eens spookagtig nie, maar gaan alles oor kleur en geur en is werklik ʼn feesviering, ongeag al die gemengde emosies wat daarmee gepaard gaan. Dit is ʼn nou eenmaal ʼn Mexikaanse ‘ding’ om ekstreme hartseer en ekstreme vreugde in dieselfde oomblik te ervaar en te vier.

Iets waarvan ons moet kennis neem is dat hierdie tradisie niks met halloween te make het nie. Halloween beeld ʼn nag van vrees en kwaaddoen uit, terwyl Die Dag van die Dooies ʼn feestelike viering van respek en lewegewende vreugde is. Dit is ʼn hemelsbreë verskil. Al is die dood beide van hierdie feeste ʼn onderliggende tema, is dit die einde van die ooreenkomste. Die een wakker vrees aan, die ander verwelkom die mooiheid in ʼn andersins treurige ervaring.

Die oorsprong van hierdie tradisie kan 3000 jaar teruggevoer word na die Aztec-mense, wat nou as Mexiko bekend staan. Alreeds ʼn honderd jaar voor dit formeel ingestel was, het die Aztecs kopbene gebruik om hul voorgangers te vereer en dit is steeds die hoof simbool van hierdie tradisie wat al vir meer as ses-honderd-jaar jaarliks gevier word. Die dood was gesien as ʼn natuurlike deel van die lewe – iets wat die Westerling ook ten alle koste probeer vermy.

Eers na die Spanjaarde die Axtec ryk omver gegooi het, het die Katolieke Kerk hierdie inheemse ritueel na 1 en 2 November verskuif – dae wat as All Saints Day en All Souls Day bekend staan. Die Latyns-Amerikaans inheemse tradisies en simbole van die afgestorwenes het vermeng met die Katolieke geloof oor lewe na die dood. Selfs gedurende die onstuimige jare waarin 50 regerings na die oorname van die Spaanse regering in 1821 Mexiko regeer het, het hierdie tradisie standvastig voortbestaan.

In hierdie seremonies bou die mense altare in hul huise met offerandes aan hul geliefdes. Altare word met helder geel- of oranje cempasúchil- en gousblomme versier. Die gousblomme se skerp geur help die afgestorwenes se gees om hul huis maklik te vind. Kerse verlig foto’s en enige ander spesiale items wat daar geplaas mag word, en families lees briewe en gedigte voor en vertel stories en grappies van die oorledenes. Soms word verwelkomende vure gebrand wat die geeste deur die oop deure en vensters sal verwelkom. Party sal selfs ʼn kombers, kussing, wasbak, seep en ʼn spieël insluit.

Kos wat geoffer word sluit items in soos tamaties, rissies, lekkers, kosse waarvan die oorledenes gehou het, tequila en “pan de muerto”, ʼn eenvoudige brood waarop suiker gestrooi word, gegeur met lemoengeursel en dan met lemoen bloeisels versier word. Dit word saam met ʼn warm sjokolade drankie of koffie geniet.

Kleurvolle kostuums en interessante grimering word gedra en daar is spesiale danse wat uitgevoer word. Wierook word gebrand en kopbene wat van suiker gemaak word, word geverf en met vere versier en ook op die altaar uitgestal. Die oorlede se naam word op die voorkop van die kopbeen geskryf.

Al die elemente van die aarde word ingesluit om die oorledenes op hul reis te vergesel. Vuur, kerse word gebrand om die pad vir die gees te verlig; water, sodat die gees sy dors kan les; aarde, tradisionele kosse word voorberei sodat die gees daarvan kan eet; en wind, delikate papierstroke word in patrone uitgeknip en aanmekaar gelas. Hierdie patrone help die geeste om maklik van een wêreld na die ander te beweeg.

Speelgoed word vir die ‘klein engele’ neergesit. Sommige families sal ook Christen simbole soos ʼn kruis insluit. Christelike tradisies sluit ook die lui van klokke in. Ligte tone word gebruik om die gees van kinders te verwelkom en dieper tone vir volwassenes.

Wanneer mense ʼn altaar bou, dink hulle nie net aan hul geliefdes nie maar ook aan hul eie sterflikheid en hoe om dit met waardigheid te aanvaar. Wêreldwyd begin al hoe meer mense hierdie tradisie volg want dit herinner ons aan ons sterflikheid, ʼn onderwerp wat die moderne mens met groot sorg probeer vermy.

Juan Aguirre, die Uitvoerende Hoof van die Mexikaanse Kultuur, Mano a Mano, vertel: “Hierdie tradisie is gegrond op die inheemse geloof dat lewe op aarde ʼn voorbereiding is vir die volgende wêreld en van groot belang is vir die voortdurende onderhouding van ʼn sterk verhouding met die oorledenes.”

Indien jy ooit sou belangstel om aan hierdie feesvieringe deel te neem, neem asseblief die volgende in ag:
Die grimering word “Sugar-skull grimering” genoem en is ongelooflik interessant en op ʼn estetiese vlak, ook beeldskoon. Indien jy nie van ʼn Mexikaanse, Latynse of Spaanse herkoms is nie, mag die gebruik van sulke grimering as ʼn belediging gesien word.

Indien jy tog sou besluit om die suiker-kopbeen, kostuums, tradisionele Mexikaanse drag, of enige ander bykomstighede soos ʼn blommekrans te dra, maak seker dat dit altyd met respek gedoen word. Hou altyd in gedagte dag dit nie ʼn halloween viering is nie, en daarom moet enige grillerige of bloedige elemente in jou kostuum vermy word.

https://www.history.com/news/day-dead-dia-de-muertos-origins

Day of the Dead Traditions


Foto : Nurphotogetty Images




TEMAS
1 Kommentaar
  1. Anze

    15 Oktober 2021

    Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Oktober 2021 – Akrostiese projek

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 76
Kommentaar telling: 95

Hier's ek weer, Hier's ek weer, Met my storie voor jou deur....   HOOP, 'n Reis van Rousmart na Heling (2015) Guppy en Anderste Stories (2018) vir navrae, e-pos aan Floksie@telkomsa.net

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

2 Lede, 361 gaste aanlyn

Bydraes – Argief