
Die krag van reën. (Brons)
(Opgedra aan die slagoffers van Natal se oorstromings en die boere wat deur die droogte geraak is deur die afgelope jare)
Stormagtig het sy haar donker kleed
styf om haar toe gevou
verwoestende trane om haar gestort
haar fyn, groen voete diep verspoel
stemme verrys smekend in ‘n hulpkreet
oë proe bitter verwoesting gesaai
want wat eens was, ‘n groen oase
nou net in modder en slyk toegevou
baie hande moes inspring om te red
verlies aan lewe en eiendom te beperk
haaie patroleer nou die stil teerpaaie
enjinlose staalbote lê hartseer besaai
en iewers … ver in ‘n dorre, yl land
tik-tik-tik reën sag teen die ruite
in ‘n rotsskeur verrys wit die geklots bruisend
skouspelagtig by die plek van groot gedruis
met hoopgevulde oë wat prewel
kniel boere in dank erkentenis
vir hul soete omarming van bo gegewe
soveel nat beloftes verkwik hul siel.
© Taai Bonthuys
Voetnota
Die Khoekhoe mense het Augrabies watervalle oorspronklik Ankoerebis genoem, wat beteken: Die plek van groot gedruis.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Mei 2022 OOP projek