Jongste aktiwiteit:

Die liefde IS

Hoe die liefde werk –
dit wis ek nie;
ek weet net dat sy IS.

Soos tye en soos ruimte,
soos oseane en soos land;
soos lig en donker wissel,
soos gebergtes, klippe, sand …
soos kraters wat gekerf is
in die ronding van die maan
en soos die lawa wat smeul
in die hart van ‘n vulkaan.

Soos saad
wat op die bar grond lê
en sluimer tot dit reën –
‘n anker in die grond instoot,
‘n stingel in die lug oploot.

Soos ‘n blaar
wat hoop op vog en lig en koolsuurgas,
dié elemente bymekaar inpas
en ‘n wonder laat gebeur.

Soos ‘n blom
wat met geur en kleur verras –
‘n lelie van die vuur
wat kan bloei deur roet en as.

Só IS die liefde net.

Die liefde bind en maak ons vry.

En iewers binne my
meet sy kragte teen die kwade;
vind oorwinning oor die haat
en oor die nyd … daar’s nimmer einde
aan haar stryd.

En sou ek – vir ‘n oomblik –
haar wese in my hande vas kon vang
dan sou ek weer die waarheid wis:
Van die liefde weet ek bítter min;
ek weet maar bloot
dat die liefde
IS.

© Carma Shaw
11 Febuarie 2018




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed