
Die pad na ‘n man se hart
Die pad na n man se hart
sê hul ‘n man se pad na sy hart
gaan deur sy maag
daarom met my voorskoot aan
begin ek my liefdesdis vir vanaand
ek dans eers ‘n polka huppel
met die klitser as my mikrofoon
en sing uit volle bors
hoe lief ek jou het
meel vlieg in die lug
soos ek die droë bestanddele sif
eiers kraak geduldig in my hand
as ek jou malvapoeding saamflans
die reuk van skaaptjops in die oond
braai aartappels in olie
terwyl pampoenkoekies suikersous trek
en elke ryskorreltjie tevrede kook
dan word tamatie kaas slaai se lyfies gekerf
trou met jou geliefkoosde olyf en avokadopeer
met aarbeie wikkellyfie ek na die tafel
om die mooiste tafel te dek
met ‘n lied in my
voltooi ek die padkaart na jou hart
vonkelwyn op ys
wag ek met my liefdesdisse net vir jou
©Kopiereg Linda du Plessis 29/11/2017
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.