Die Paleis van God
Die leeu wat kom die leeu wat grom
Die leeu wat brul die leeu wat brom
Sidder en bewe bekruip en ontvoer
Met vrees beetgepak
Teen die wet met geweld gedwing
Toegesluit en so gelos
Die hel se klokke die eerste weë
Aanhoudend gehamer in my ore
Versaak en verraai verewig
Vir die dood verlaat verlore
~
Sy loop op vaste aarde droë grond
Lewe en bloed ek ken haar goed
Dra die fakkel orals skyn haar lig
Sy skink my beker sy les my dors
Sy tel my op sy gee my moed
Gee my krag sy gee my hoop
~
Dieptes ewige duister nag verlore vergete
Donker doderyk God verlate sonder hoop
Vuilrooi reënboog in die Weste
Vuilrooi reënboog op die muur
~
Die deur se slot sluit self oop
Lang gang eggos na vryheid
Die langste gang is stil
Daar is lig
Wandel in skemer in die tuin
Lug skoon koel vars fris
Voël op ‘n tak ‘n voël wat fluit
Een eensaam voël fluit alleen
Menigte gevangenis deur engele
Slawe bevry met magtige gejuig
Kettings val verlossing en vrede
Die gevangenis hekke oopgebreek
Die verdrukking wyk in stilte
~
Veilig saggies teer aan slaap oorgegee
In die Koning se paleis op ‘n matjie
Genade op die vloer dit was Sy belofte
Heilige woning van vlees en van bloed
~
Sluk jou pienk pil en die witte
Soos een man strompel strompel
Struikel val en lê op droë gras
Lê soos lyke in die winter son
Die mis die moer die pis op die vloer
Die kak in die bak
BB koerantpapier Gideons Bybeltjies
Aangename reuk soet koffie wat troos
~
Die deur uit donker in die lig
Dit is hier hoe lank gewag
Hoor die lied van tyd en tye
Die son oorwin die nag
Wandel die drempel skeerlem snykant
Stap die grenslyn waar skadus dwaal
~
Skink die beker vol warm gloed
Skink die bitter soetwyn liefde
Breek die brood deel die brood
Eet Sy vlees drink Sy bloed
Elke knie sal buig elke tong sal bely
Koning van Konings Heer van Heere
Op my knieë bely ek Immanuel
God se Seun Jesus die Gesalfde
~ ~ ~
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Elroux
Diep gedig wat met my hart praat.