
DIE SINMAKER VAN MY GISTERS
Ek dink die meeste van my “onthouinge” uit my kinderjare is gevorm uit dit wat my ma, ouma en ander familie my vertel en dit wat jy dink jy onthou wanneer jy deur die baba en kleuter foto’s kyk. Meskien is dit vir meeste mense ook so. Jou kleintyd stories bestaan uit ’n samestelling van oorvertellings en fotoalbums. Aan die akuraatheid van die oorvertellings kan jy niks doen nie, want elkeen ervaar dinge anders en mens hou dan bonop ook ingedagte dinge soos leuens en oordrywings, want party mense hou daarvan om stories oor te vertel soos dit hulle pas.
Foto’s is ’n ander ding. ’n Foto kan nie jok of oordryf nie. In my kinderjare is foto’s nog geneem met ’n mik en druk. Daar was nie ’n skermpie met ’n review button sodat jy die foto kan evalueer en oorneem tot jy tevrede is met die eindproduk nie. As die knoppie gedruk is, is die foto geneem. Daar was ook nie ’n ding soos photoshop en lightroom om donker kringe onder oë uit te wis of om vaal prentjies op te helder nie. Jy het die filmrolletjie by die apteek gaan ingee en gewag dat hulle jou foto’s uitdruk. Dan het jy die foto’s in die Fotofirst koevertjie huis toe geneem en in ’n album gaan sit. Tussendeur die dinge wat vir my gesê word om te onthou en die prentjies wat my wys wat om te onthou, is daar ook die dinge wat jy wel sélf onthou. Vir my is dit soos stukkies lig wat deur ‘n miswolk skyn. dit bring lewe aan die stories en prentjies, want ek weet ek was dáár. In my eie onthouinge het ek asem gehaal, gesien, gehoor en gevoél. Stories wat oor en oor vertel word, word later onbetroubaar, fotos van jare gelede verdof en verkrummel, maar my eie onthou deurstaan tyd en word deel van my vel, organe en siel. Dit is onlosmaaklik deel van my.
Met die albums uit my kinderjare, die oorvertellings van ander en my eie onthouinge, het ek die legkaart van my lewe aanmekaar begin sit. Soms pas ’n stuk nêrens in nie en ander kere sit daar lank ’n gat waarvoor jy ook nie die regte legkaartstuk kan vind nie. Ek het geleer om dan net geduldig te wees. Sit back and relax. Ek gee die odd pieces en oop gate vir Jesus – Hy wys op Sy tyd wat pas waar. As ek goed in gate druk net om gate toe te maak , maak die prentjie van my lewenslegkaart glad nie sin nie. Ek bou my legkaart saam met die Een wat my groter prentjie in Sy hande hou. Hy alleen, is die sinmaker van my gisters.
6 Kommentare
-
-
neels claasen
Sal nooit my eers te mik en druk vwrgeet nie
-
borrels
As ek toe geweet het wat ek nou weet, het ek nog baie meer foto's geneem as wat ek reeds doen. Soms is dit al wat mens het ... dit en herinneringe.
-
Evelyn van der Merwe
So dink ieder en elk dat hul legkaart nooit voltooi sal word nie, maar soos jy noem, nie ons wil maar Sy wil, is elkeen op sy eie 'n volmaak perfek gevormde legkaart.
-
Kiekies
Ai jy praat nou met my hart. Alles wat ek hier skryf is soos kiekies in my geheue album, wat niemand van ons kan roof nie.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Jy het hierdie miswolk van herinneringe baie mooi raakgevat en beskryf. Heerlik gelees en ek se ook dankie dat die Vader in beheer is van die hede maar ook die verlede