Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker

Titel: Die vrou by die hek.

Deur Lynelle
Datum gepubliseer: 10 Februarie 2021 Aantal woorde: 1312 208 Kere gelees 9

“Wie lui die klokkie alweer?” gil Pa beduiweld uit die kamer. Vandag is nie ‘n goeie dag vir hom nie. Laasnag het gepaard gegaan met pyn wat veroorsaak het dat niemand in die huis kon slaap nie. Ma is kliniek toe vir haar kroniese medisyne.

 

“Ek sal gaan kyk, Pa.”

 

“As dit ‘n bedelaar is, jaag hulle weg. Ons het genoeg probleme van ons eie.”

 

“Ja, Paps.”

 

“Wanneer jy klaar is, bring my ‘n koffietjie, Engela.”

 

“Ja, Pappie.” Haastig loop ek die gang af en struikel amper oor die stofsuierpyp. Vies skuif ek die masjien eenkant toe. Nog ‘n werk wat vir my wag. Ek self is verby moeg. Wanneer Pa nie slaap nie, slaap niemand in die huis nie. Dit gaan nou al so aan sedert Maandag. Al wat Dokter Barkhuizen sê is dat dit erger sal word. Daar is niks meer wat hulle vir Pappie kan doen nie. Ons moet dit nou net gemaklik maak vir hom, het die dokter aanbeveel.

 

Barkhuizen het vir my ‘n ligte slaappil gegee, maar sover kon ek dit nog nie drink nie. Die gevaar dat ek nie sou wakker word wanneer Pappie of Mammie roep, my motivering.

 

Ek loer versigtig by die sitkamervenster uit. Die kantgordyn is lankal gedaan, maar ek weet al waar om te staan om nie sigbaar te wees van die straat se kant af nie. Dit gee my ‘n goeie uitsig oor die versorgde voortuin – gelukkig een werk wat ek nie hoef te doen nie.

 

By die skuifhek staan ‘n vrou. Van dié afstand kan ek nie haar hele profiel sien nie, maar sy lyk verslons. Ek skuifel na die volgende venster en loer weer uit. Die klokkie dawer deur die stilte en die vrou kyk onseker om haar maar beweeg nie.

 

“Engela, hoekom het jy nog nie geantwoord nie?” gil pa weer. Sy stem is bewerig.

 

“Ek maak net seker wie dit is, Pa.”

 

“Wel?” vra hy, maar ek antwoord nie.

 

Nou kan ek haar mooi sien en my hart pluk. Die vrou lyk bekend. Weer lui die klokkie, twee-drie-keer. Ek sluit haastig die voordeur oop, dan die ysterhek voor ek die paadjie afstap en nader beweeg. Haar blondekrulle het lanklaas ‘n kam gesien, of ‘n sny. Die rooi sweetpaktrui hang slonserig aan haar skraal skouers. Ek skat ons moet omtrent dieselfde ouderdom wees. Van nader is haar vel bruin en leeragtig van blootstelling. Versigtig stap ek nader.

 

“Middag.”

 

“Het Mevrou vir my kos? Ek het lanklaas geeët.”

 

“Ek het nie veel in die kas nie, maar ek kan vir jou ‘n broodjie maak.”

 

“Enige iets, Mevrou. Ek het drie dae laas geeët. Miskien ietsie ekstra vir die man ook.”

 

Ek weet om nou toebroodjies maak is moeilikheid soek, maar ek draai nietemin om. Pa se goedhartigheid het weggekwyn met die siekte saam. Pa se kamergordyn beweeg liggies en ek weet hy is bewus van wat aangaan.

 

“Wag hier, ek bring.”

 

Sy skud haar kop en gaan sit dan op die sypaadjie met haar kop skuins gedraai. Iewers wil ‘n klokkie lui. Ek is seker ek ken haar. Haastig stap ek die huis in, sluit die ysterhek en stap kombuis toe.

 

“Wat wil sy hê?” gil pa weer van die kamer af.

 

Dit is nodeloos om te antwoord, want hy is so doof soos ‘n kwartel. Daarom sit ek die ketel aan en kry brood en kouevleis uit die yskas. Daar is genoeg brood vir twee toebroodjies wat ek in servette toedraai. Dan maak ek vir haar ook koffie, sommer in ‘n polistireen koppie. Vinnig vat ek pa se koffie voor hy weer skreeu.

 

“Waar is jy dat jy my nie antwoord nie?”

 

“Ek was net gou besig met kos maak vir die vrou.”

 

“Ek glo dit nie. Ek het jou gesê ons het nie kos nie.”

 

“Ons kan ‘n broodjie spaar, Pa.”

 

“En wat moet ek vanmiddag eet?”

 

“Ek sal weer ‘n brood gaan koop.” Haastig stap ek uit en kry die broodjies en koffie.

Sy moes by die hek aan die slaapgeraak het, want die manier waarop sy lê laat my ver terug dink na ‘n tyd toe die lewe goed was, kos volop was en ons in die warmte van ons bed kon slaap. Ongekompliseerd, sonder bekommernis. ‘n Tyd van vriendskap en vreugde.

 

“Riekie!” roep ek hard genoeg, eintlik versigtig maar verstom.

 

“Riekie,” roep ek weer. Dié keer beweeg sy. Sy spring op, duidelik verbouereerd. Ek klik die hekoopmaker en die hek kraak oop. Ek gee ‘n tree oor die grenslyn en stop voor my eens beste maatjie. Die tenger skouers lyk nog erger in die oorgrote trui, haar lyf skraal en afgeleef.

 

Verbaas kyk sy my aan. Haar oë registreer nie dat ek haar op haar naam noem nie. Vuil hande word uitgehou en ek handig die eetgoed oor.

 

“Riekie, dit is ek – Engela,” probeer ek weer en staan nader. ‘n Vuil reuk bereik my neus en ek draai sodat ek teen die wind staan. Dit is ‘n warm dag, die somer son bak die wêreld met geweld. Die boom se koelte bied nie veel beskutting nie en die vrou kry koud. ‘n Verwese kyk ontmoet my, die eens helder blou oë nou dof en glasig.

 

“Ek moet loop.” Sy herken my nie, besef ek met weëmoed – Riekie Enslin, die dogter van die dorp se burgermeester … A-klas student wat graad gevang het in joernalistiek. Ek was altyd so jaloers op haar. Slim en skrander, elke seun was agter haar aan. Hoekom is sy op die straat? My moeë lyf kom in beweging en ek hardloop agter haar aan.

 

“Riekie, wag vir my.” Sy rek egter haar tree en skarrel weg, bang en verlore en my hart vertrek in pyn.

 

“Kom môre weer. Ek sal sorg dat hier ‘n bord kos reg is vir jou!” roep ek verwese, maar sy is alreeds weg.

 

Ek sak neer op die gras en huil my hart uit. My lewe is in felle kontras van hare. Dit is asof ‘n gewig op my gesit word, ‘n gewig te swaar om te dra. My bene gee eenvoudig in en ek huil … vir my pa, vir ma, vir Riekie. Die moegheid is soos ‘n swaar gordyn wat dreig om toe te trek.

 

Dit is baie later toe ek bedaar en ek terugstap, weer die knoppie druk sodat die hek kan toemaak. Ek het soveel vrae om haar te vra. Hoe kan ek haar help? Dan sug ek. Ek kan myself skaars help. Eintlik is ek op dieselfde plek waar sy is. Ek het darem ‘n Pa en Ma by wie ek nog kan bly. Al is Pa siek, voorsien hy ‘n dak or my kop en kos op die tafel. Ek kan dankbaar wees vir die klein gawes. Die Riekies van die wêreld is nie so gelukkig nie.

 

Stilweg skiet ek ‘n dankgebed op. Ek sal nooit weer kla as Pa my wakker maak nie, nooit weer moan omdat ek soos ‘n slaaf moet werk nie. Nee, van nou af sal ek dankbaar wees.

 

“Ek moet piepie!” gil pa en ek draf in die gang af. Daar is paniek in elke beweging soos Pa probeer om te keer, maar ek sien dit is te laat. “Ek roep jou – oor en oor! Waar was jy?” ‘n Traan verdwyn tussen die baie plooie – ‘n traan van vernedering.

 

Jammer, Paps … kom.” Dit is asof ‘n kraan oopmaak en hy huil nog meer.

 

“Jy is goed vir ons, my kind.”

 

“Ek is lief vir Pa,” uiter ek sag.

 

Baie later, toe als rustig is buig ek my kop in diepe dankbaarheid: “Dankie Here vir hierdie oomblikke,” prewel ek sag, “Dankie vir my pa. Bewaar vir Riekie en voorsien aan haar ook net soos wat U aan my voorsien. Sy het dit meer nodig as ek want, my beker loop alreeds oor.

 

‘n Beker van genade.

©LynelleClark2021

 




TEMAS
2 Kommentaar
  1. HelenaMellet

    13 Februarie 2021

    Baie mooi storie, Lynelle. Gaan sit diep in die hart

  2. Lynelle

    21 Augustus 2021

    Baie dankie vir die saamlees, Helena.

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 76
Kommentaar telling: 20

Ek is 'n voltydse skrywer, blogger en vryskut skrywer. In my vrye tyd doen ek vertalings vir YouVersion Bybeltoep. Ek het my eerste boek in 2012 gepubliseer, daarna het nog boeke gevolg. Ek hou nie daarvan om myself te beperk tot een genre nie, en skryf oor als wat my interesseer. Ek skryf meestal in Engels maar geniet ook om myself in Afrikaans uit te druk. Boeke uit my pen is 1. A Pirate's Wife, geskiedkundige romanse. 2. Bella's Choice, eietydse roman. 3. Blood Mines, toekomstige spanningsverhaal. 4. GedagteKringe, 'n Afrikaanse Bundel, gevul met artikels, kort stories en staaltjies uit my lewe. 5. Juweel van die Oosgrens sal eersdaags beskikbaar wees en is 'n historiese roman. 6. Love at War is 'n geestelike drama wat handel oor keuses en die nagevolge van die keuses. 'n Christelike militêre romanse. My boeke is beskikbaar by Amazon, Smashwords, Webnovel, Ns. Skrywershuis, Groep 7 Drukkers en by my webwerf. Ek het ook help skryf aan Worthy to be Loved - 'n Geestelike dagstuk boek saam met Driekie Grobler, Spore van Genade - 'n Liefdadigheidsprojek saam met Alta van Zyl en Kontreistories - in samewerking met SA Skrywers en Elsabe de Beer. Ek hou van nuwe uitdagings en is gereeld besig om my skryfkuns te beoefen. Om meer van my te leer besoek gerus my webwerf kreativcollectiv.com.  

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 140 gaste aanlyn

Bydraes – Argief