Liefste Vallentyn
Liefste Vallentyn,
Soos ballonne in die wind sal my soene jou mos vind” eggo die liedjie van Janita Claassen waarna ek luister. Dit het my dadelik weer hoop vir ons gedoemde verhouding gegee. Ek móés net dadelik skryf oor ek toe wonder van watter kleur balonne jy sal hou.
Pers kan ek nie stuur nie want dan dink jy ek is seksueel gefrustreerd. Almal sal jou vertel ‘n verhoudings is meer as net dit. Daardie kans wil ek nie vat nie omdat dit verkeerde indrukke kan laat. Rooi is eintlik die universele kleur vir gevaar en só wil ek jou tog nie afskrik nie. Jaloesie is geel van kleur en duidelik het ons niks om oor jaloers te wees nie. Reinwit is buite die kwessie. Ons het immers albei geraamtes in die kas.
Miskien weet jy dit nie , maar groen is die kleur van groei. Duidelik is daar huidiglik geen groei in hierdie verhouding nie. Daar loop ek nog ‘n bloutjie. O ja, blou! Of nee, wag. Blou is mos die kleur van liefde omdat dit soos God se hemel is, sonder einde. Heeltemal onvanpas.
My ouma, jy onthou haar mos? Ouma Sêra het altyd gesê swart is die kleur van rou. Tog trek mense ook swart aan as hulle ‘n indruk wil maak of as hulle deftig wil wees. My sussie Yvonne sê swart is ‘n neutrale kleur. Dit sê eintlik niks.
Daar het ons nou die oplossing gevind! Sjoe, is jy nie saam met my bly nie? Nou moet ek net ‘n swart ballon gaan soek. Dit gaan amper net so moeilik wees as om ‘n naald in die hooimied te gaan soek. Pasop, naalde prik ballonne. Hoop nie hy is té duur nie. Ek moet tog net altyd onthou dat daar is nie ‘n prys op liefde is nie.
Ek is seker my swart ballon sal eendag by jou uitkom al is dit in stukkies soos my gebreekte hart. Sal jy my dan asseblief net een gunsie bewys? Oops, dalk sal dit te veel gevra wees en ek wil jou gladnie belas nie. Ek wou dat jy net die stukkies van die swart ballon sou begrawe, as jy kan, sodat ek die pienke van nuwe hoop en liefde kan opblaas.
Dankie dat jy my briefie, wat nooit gepos is nie, gelees het. Jy sal nie glo hoe goed dit my laat voel nie.
Liefde groete,
Jou Ballonbarsie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2021 – Liefdes-projek