Dit is reeds Kersfees in my hart (Brons 574 Woode)
Sommer reeds vroeg in November het ek al ’n paar keer na Little Drummer Boy geluister en met aandgodsdiens sing ons reeds ’n paar gewyde Kersliedere. Die boom word net môre opgesit al is dit normaalweg eerste Desember nog ’n paar dae weg.
Die winkels help verseker my Kersfees lus hierdie jaar aan met die vertoning van die mooiste kersbome so vlak by die deur.
Ek weet dit is egter hulle triek om die koopgees in my wakker te maak. My te laat droom oor die perfekte Kersgeskenke, Kersdag feestafel en nog mooimaakgoed vir die huis. Dit is hier waar die fantasie wêreld moet plek maak vir die realiteit. My beursie en bankrekening het nie voorsiening gemaak vir dit wat in my gedagtes ronddwaal nie. En word ek vir ’n oomblik hartseer, nie net vir myself nie, maar vir hulle waarvoor ek moet en wil sorg.
Ek dink aan my ma se droom om weer vir die eerste keer in byna 35 jaar see toe te gaan, die plan het nou so mooi begin waar ek so twee maande terug gesê het dat ons halfpad daar is. Vandag oor twee weke moet ons vertrek en ek wonder of ons dit kan bybring, dit is nou in die weegskaal en is dit ’n 50/50 situasie. Die aflos vir daai week is gereël, maar my banksaldo praat nog ’n ander taal. Intussen hou ek aan met hoop met elke greintjie binne my.
Ek dink aan die 5 kinders waarvoor ons moet sorg. Die welsyn het hulle vir eers aan ons toe vertrou en moet ek dink aan hulle kinder-hartjies wat ’n verwagting het van ’n groot geskenk wat Kersvader vir hulle gaan bring, hier dik ek O Here, nou moet U help. Dit is bloot kinders wat soos alle ander kinders droom van Kersfees. Wat is ’n Kersfees sonder geskenke onder die kersboom. Intussen wonder ek ook wat gaan ons doen as die welsyn oor Desember nog ’n blouoog dogtertjie by ons gaan aflaai. Verlede jaar was dit 13 monde wat gevoer moes word. Ek bid nog bietjie harder, “AG Here laat die jaar anders wees, beter as verlede jaar” terwyl ek wonder of Hy ons sal teleurstel.
Vir ’n oomblik besef ek weer waarom ons Kersfees fier, die waarheid daaragter, net jammer die waarheid word weggesteek agter groot bokse wat met rooi en groen oorgetrek word en die skaapboud wat reeds in vrieskaste gebêre word vir daai dag voor Kersfees wanneer ma’s hulle Kook en Geniet nader trek sodat die tafels wat kreun onder kos, die volgende dag binne minute verorber kan word.
Ons mis die Kersliedere by kerslig, ons mis die verhaal van Maria en Josef wat na Bethlehem op ’n donkie moes reis vir die geboorte van Die Christus in ’n stal. Ons mis die wyse manne se geskenke van goud, wierook en mirre wat eer aan Hom bring wat Hom gesien het deur die mooiste ster, Ons mis die eenvoudige skaapwagters en die Engele Koor wat sing Hosanna in die hoogste hemele.
Nou het ek besluit, geskenke sal daar wees, maar die boodskap van Jesus sal weer opvlam wanneer ons almal geduldig op Kersvader wag, sodat die Waarheid nie agter bly nie. Nou in my hart weet ek, maak nie saak hoe groot die boom of hoe vol die tafel gaan wees nie. Vanjaar se Kersfees sal geseënd wees, want ek gaan dit deel met die mense vir wie ek lief is.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die November 2022- OOP projek