Ek onthou
vroegoggend
as die spasies broos vasgedruk
tussen lig en donker lê
groei ‘n donkeronthouseisoen
om weer op treurboggels te ry
terwyl verlange
uit die kruike van my oë drup
sien ek hoe die son poeier oor my bed
en daar buite nuwe botsels
aan boomgeraamtes bot
dán roep die beeld van jou dood
rou in my slaapwarm asem
uit die piet-my-vrou se keel;
dit is dan wat ek witduiflik
om nuwe aanneming bid
hoor ek die windfluit
wat kreukelwolke met letters
van jou naam, sag oor die kim kom verf
en in blindepalms het ek jou beeld
van my wang gevee
© Anzé Bezuidenhout
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.