Ek Skryf Vir Jou ‘n Storie
Ek skryf vir jou
‘n gordyn-oopmaak-storie,
‘n storie wat die sonlig
van die morestond
diep in jou hart laat skyn,
wat die koue van die nag
soos die oggendmis
oor die veld laat verdwyn.
Ek skryf vir jou
‘n vars-grond-na-die-reën-ruik-storie
wat jou hart kan was
soos ‘n hoëveld donderstorm
die veld laat blink
en die voëls laat sing.
Ek skryf vir jou
‘n warm-brood-en-botter-storie
om jou honger siel
te verkwik en te voed
en versadig te los
soos ‘n moë man
na ‘n bord boerekos.
Ek skryf vir jou
‘n rooiwyn-voor-die-kaggelvuur-storie
wat jou rustig maak
soos die melodie
van ‘n wiegelied
wat jou droomland toe neem
as die slaap jou kom vat.
Ek skryf vir jou
‘n uit-my-hart-uit-storie
om vir jou te vertel
daar’s ‘n lied in my hart
en die woorde wat spel
Net-Vir-Jou-Het-Ek-Lief.
©Anton Bosch 25/08/2017
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
See-Jay-El
Jy het hier in alledaagse vergelykings daarin geslaag om die daad van liefhê (werkwoord) uit te beeld in kontras met die soortnaam konotasie wat mense aan liefde heg. Dit so dikwels as 'n vlinderagtige emosie van in 'n korstondige oomblik bestaan. Maar dis enersyds 'n pragtige offer wat gegee word om die lewe se mooi vir 'n geliefde te laat herleef. Jou werk het altyd so 'n diep boodskap, wat dit ongelooflik maak om te lees.