Gister se spoke
Ek onthou toe ek my eerste “iets” verloor het. ʼn Hele twee rand, by die hoek kafee van die Portugees. My broek se sak was leeg toe ek my chips en los lekkers wou betaal.
Ek onthou presies waar. Op die ander hoek op pad na die kafee was ʼn Rooms-Katolieke kerkie. My broer het gesê dit spook iets verskrikliks daar. Ek het altyd verby die kerk gehardloop en partykeer vyf keer terug gekyk.
Daai verloor sal ek vir altyd onthou.
So verloor mens mos allerhande goeters langs die lewenspad. Net om terug te stap en tevergeefs te soek na die verlore ding.
Mens verloor mense ook.
Ek dink dit was met die terug kyk en die bang wees vir die miskien, as, wat as, dalk, se nou net – Spook in die kerk venster, wat ek daai twee rand vir sekondes vergeet het om op te pas.
Soms jaag ons Gisters ons soos ʼn groot miskien Spook. Vir sekondes vergeet ons die nou, die hier en die oomblik.
Gister mag nie jou mooi trap oor vandag se sypaadjies bepaal nie.
Ek het huis toe gestap. Bol wang vies. Dik bek verby die kerk. Te kwaad om bang te wees vir die miskien-spook.
Ek onthou ek het vir die venster tong uit gesteek en gedink. Ja spook! Ek weet jy het my twee rand gevat.
Vandag weet ek spoke hoort in gister, want anders steel hulle meer as ʼn twee rand.
3 Kommentare
-
neels
groot waarheid Yolande
-
Kiekies
Uitstekende filosofie wat jy hier losgeskryf het!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Dit is n groot waarheid wat jy hier vaspen. Laat my dink aan wat my ouma altyd gese het: Ons het 2 oe wat voor aan ons kop sit sodat ons altyd na die toekoms (vorentoe) kan kyk.. lekker gelees dankie