Welkom, Besoeker
Welkom, Besoeker
Taal waarskuwing*

Titel: In my herfsjare

Deur Grootvissie
Datum gepubliseer: 9 Maart 2020 Aantal woorde: 1718 423 Kere gelees 15

Die veld is stil, alles is doodstil. Asof die hele wêreld net stil geword het en alles, ja alles het gegaan oor die brandende bos. Versigtig, stadig en gevul met beide vrees en nuuskierigheid gaan Moshe nader. Sy sintuie kan amper nie dit wat hy sien verwerk nie. Die bos brand, daar is vlamme, maar die bos brand nie uit nie en die vlamme skroei nie die bos nie.

Moshe het op hange van die berg die skape gaan haal. Die vorige aand het hy tot laat in die nag met sy skoonpa, Yitro, gesels. Na die ete het hulle begin praat oor die skape en hul weiding. “Moshe, neem môre die pad wat agter die berg om lei. Daar is skape wat al ‘n paar dae daar staan. Ek weet hulle wei daar in die kloof, maar dis tyd dat hulle weer getel word en ons moet hulle nader bring vir skeertyd,” het Yitro gesê.

“Dddis reg, ek ssal sommer van ddaar af aanjaag ddat ons die hhhele trop hhier kan kry. Kan Pa asseblief ssorg dat die heinings rreg is, ddaar gaan heelwat skape wees, onthou ddie llaatllammers kkkom ook by,” het Moshe geantwoord en aan nog ‘n dadelkoek begin peusel. “Mmmm, dddie dddadelkoeke is lekker,” het hy gebrom. Moshe het ‘n ligte hakkel in sy woorde gehad, maar Yitro was al gewoond daaraan. Die manne ken mekaar al meer as dertig jaar. Moshe is met Yitro se dogter getroud en hulle het saam as ‘n familie in die wildernis van Sinai gewoon, aan die voet van die berg. Die lewe was hard, maar hulle was gelukkig.

Later die nag het hul gesprek meer na Yahweh en die skepping gedraai. Onder die sterre het hulle die grootsheid van Yahweh bespiegel en saam redeneer. Dit was een van hul gunsteling tydverdrywe. “Groter as die hemel, wyer as die sterre en langer as die reis van hier tot by die sekelmaan,’ het Yitro altyd gesê in ‘n poging om Yahweh te beskryf. Dan het Moshe geknik en bygevoeg: “Ja, en dddan selfs groter, tot wwwaar ons nie wwweet nie, daar waar die mmmaan gaan slaap as die sson opkom. Wwwyer as die sterre wat ons kkan sien en ook die wat ons nnnie kan sien nie.” Daarna het beide van hulle vir lang minute na die maan en die sterre gestaar, elkeen toegevou in sy eie gedagtes, tevrede dat sy siening aanvaar word deur die ander.

Nou staan hy voor ‘n brandende bos wat nie brand nie. Hy voel die hitte van die vlamme op sy arms en gesig, maar dit pla hom nie. Die feit dat die bos nie brand nie is skrikwekkend maar dit fassineer hom. “Moshe!” fluister ‘n stem skielik. Hy frons en elke spier in sy liggaam raak gespanne. Vinnig kyk Moshe rond om te sien of daar dalk iemand anders hier langs die brandende bos is, maar hy gewaar niemand. ”Moshe!” fluister die stem weer. Dan luister hy aandagtig. “Trek uit jou skoene,” hoor hy duidelike weer die sagte stem maar hy bly doodstil staan. “Trek uit jou skoene,” praat die stem weer sag en Moshe besef die stem kom uit die vlamme. Verskrik en amper bevrees buig hy stadig af en reik sy een hand uit na die riem van sy sandaal. “Trek uit jou skoene want die grond waarop jy staan is heilig,” fluister die vlamme-stem weer en met dit maak hy vinnig sy sandale los en staan kaalvoet op die growwe klippe.

“Wwwie is jjjy?” vra Moshe in ‘n bewerige stem.

Soos ‘n diep sug wat oor die veld rol en in die klowe eggo kom ‘n klank na hom aangerol. Dit klink asof dit van baie ver af kom en tog ook baie naby. “Yahweh,” hoor hy duidelik, maar kan steeds nie verstaan wat aangaan nie. Die bos, die stem en die harde klippe onder sy voete maak dit moeilik vir hom om alles in te neem. “Ek is!” eggo woorde duidelik deur die donker van die nag en versplinter teen die rotse en kranse. Met die aanhoor daarvan voel dit vir Moshe asof hy nie krag is sy liggaam het nie. Dit voel asof alle spanning en krag uit hom vloei soos water. Hy sak stadig op sy knieë neer en leun vooroor met sy hande op die kaal, koue rots van die berg. Sy kop hang laag tussen sy skouers.

Die besef dat hy in die teenwoordigheid staan van die einste Yahweh wat hy en sy skoonpa bespreek het. Dit, tesame met die gevoel van magteloosheid in die teenwoordigheid, laat hom liggies bewe. Sy sintuie skree teen dit wat hy sien en hoor en steeds nie kan verwerk nie. Dan neem hy ‘n diep asemteug en fluister sag, “Yyyahweh….wwwat wwwil U van my hhê? Die feit dat hy met Yahweh praat is iets wat hy nog nie deur gedink het nie. Daar is nie veel wat hy op die oomblik eintlik verstaan of kan begryp nie.

“Moshe, ek sien jou, ek het jou gekies. Gaan lei my volk, Israel, uit die land van Egipte, uit slawerny” praat die stem weer. Dit klink soos ‘n fluister, soos ‘n sagte bries maar dit draai in die nag en kom van oraloor en tog is die stem in die vlamme. Moshe frons en begin sy kop lig. Sy oë is groot oopgerek en twyfel is duidelik in hulle sigbaar.

Dan herhaal die klank, duidelik en sonder twyfel die woorde: “Ek het jou gekies. Gaan lei my volk, Israel, uit die land van Egipte, uit slawerny. Moshe maak sy oë styf toe. Sy redelikheid en logika begin stadigaan oorneem. Hy is ‘n man van die wildernis, ‘n skaapwagter. Hy ken die veld en die diere van die veld. Hy ken ook die plante en bosse, elke kloof en elke vallei in die geweste het hy al verken. Nog nooit, nog nooit het hy ‘n brandende bos gesien wat nie brand nie. Nog nooit het hy ‘n stem in die vlamme van ‘n vuur gehoor nie. Nog nooit het hy gedroom dat hy met Yahweh sal praat nie. Hierdie dinge is tog onmoontlik en nie normaal nie. Dit kan nie wees nie, dink hy by homself en lig sy kop op. Ek droom seker, maar ek sal nou wakker wees, dink hy en maak sy oë oop.

Voor hom brand die bos in vlamme, maar die bos brand nie. Vinnig kip hy sy oë en vryf met sy hande oor sy gesig. Dan besef hy dat hy eintlik wakker is en dat die brandende bos ook werklik is. “Moshe, gaan lei my volk, Israel!” beveel die stem weer duidelik.

Voordat hy kan praat of reageer gaan die vlamme dood en omvou die stilte en die nag hom weer soos ‘n swart kombers. Moshe is stomgeslaan. Verbaas en amper asof hy in ‘n beswyming is gaan sit hy op die grond en begin stadig sy sandale weer aantrek. In die donkerte om hom hoor hy hoe die skape vroetel en proes, iewers blêr ‘n lam saggies.

Tot vroeg in die oggendure sit Moshe op die harde grond. Hy het nog nie beweeg nie. Sy kop draai om die gebeure van die vorige nag. Hy het reeds besluit om nie die vlamme en die bos of die teenwoordigheid van die stem aan homself te probeer verduidelik nie. Dit sou ‘n leeftyd vat om te redeneer, maar die woorde, die woorde kan hy nie betwyfel nie.

Voor die son oor die horison sy kop kan lig is Moshe reeds besig om die skape bymekaar te maak. Hy fluit saggies en roep hulle in ‘n stem wat hulle ken. Die diere staan almal op en na ‘n paar minute is almal besig om Moshe te volg in die rigting van die nedersetting aan die voet van die berg.

Moshe se gedagtes draai nog om die woorde wat hy so duidelik gehoor het. Die betekenis daarvan heeltemal duidelik maar die omvang daarvan begin hom stadigaan oorweldig. “Gaan lllei …my vvvolk, …Iiisrael…” herhaal hy die opdrag hardop, stadig. Dan dink hy weer vir ‘n paar minute daaroor.

“Hhho kan ek dddie vvvolk llei as eek nnnie kan praat nni?” vra hy hardop en kyk oor sy skouer na die pieke van die berg. “Ek kkan nni praat nnie!” skree hy en swaai sy hand in die rigting van die berg. “Ek kkan nnie…” mompel hy weer en laat sy kop sak. Die skape om hom blêr en ‘n lae stofwolk omsingel die trop soos hulle teen die hange van die berg af beweeg. Moshe is verlore in sy eie gedagtes. Hy probeer om die geldigheid en werklikheid van sy ervaring uit te pluis en te verstaan. Wat sou Yitro doen, hoe sou hy dit redeneer, dink Moshe. ‘Groter as die hemel, wyer as die sterre en langer as die reis van hier tot by die sekelmaan,’ sou hy gesê het. Moshe glimlag, maar dan raak hy weer ernstig met homself. Yahweh is seker dit alles ja, en nog meer, dink hy. Dan stop hy en kyk terug na die berg en die wolk wat op die berg rus soos die bloeisels wat ‘n amandelboom bedek.

Stadig draai Moshe om en wend hom na die berg vanwaar hy gekom het. “…ek is al tttagtig somers hhhier, …ttagtig sssomers!” begin hy hakkelend. Dan word sy stem harder, smekend, ” Ek is in dddie hherfsjare vvvan my llewe …en ek kkan nni praat nnnie…ek kan nnie!” skree hy en voel nie hoe die trane in sy oë begin opwel en oor sy wange vloei nie. Spoeg spat uit sy mondhoeke soos hy homself inspan om die woorde uit te kry, maar sy woorde raak op. Dan lek hy oor sy lippe en sak op sy knieë neer, die skape staan om hom en kyk hom verskrik aan.

“…tagtig sssomers…in mmy hhherfsjare….kkan nnie ppraat nniee!” roep hy tussen snikke en asemteue. Moshe strek sy hande uit na die berg. Sy kop is omlaag gebuig. Trane val van sy gesig af op die dor sand. Hier aan die voetenent van die berg, word Moshe in sy gees heeltemal oorweldig. Sy snikke en kreune rol sag oor die veld en fluister teen die hange van Sinai terwyl die wolk roerloos op die berg rus.

© Christo Visser
Maart 2020




TEMAS

Laat u kommentaar

GESKRYF DEUR

Jy moet ingeteken wees om boodskappe aan hierdie skrywer te kan stuur.

Publikasies: 66
Kommentaar telling: 16

Afrikaans, suiwer

Horison Media

AfriForum – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

FAK – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Die Afrikaanse Taalmuseum & -monument – Trotse borg van INK dig/skryf kompetisie

Gebruikers Aanlyn

1 Lid, 134 gaste aanlyn

Bydraes – Argief