Jongste aktiwiteit:

“Jim Reeves is dood”

In Blyvooruitzigt, Carletonville
het Hettie menig uur verspil
deur na die krake in die muur te kyk.
Elke bars se loop
het sy sorgvuldig nagegaan
ook elke stoeppilaar se val
of (nog) wankelende staan.

Oor die onderdeur het sy geloer
na die gat daar in haar agtertuin –
of dit groter of dalk dieper word;
of daar dalk nóg ‘n gat verskyn.

*

Die vakansie in Amanzimtoti
het haar ’n wyle laat vergeet
hoe om ’n bars of kraak se breedte
met die blote oog te meet.
Ja, die vakansie het haar goed gedoen
en dit was net sowel,
want dis die enkele ligpunt
in die verhaal wat ek vertel.

*

Skaars sit Hettie voet aan huis
of ’n dwarskraak heet haar
. . . . . WELKOM TUIS . . . . .
só, asof hy oopmond vir haar lag.
Toe het sy gewis geweet
–sy’t lank genoeg gewag.
“Net more maak ek werk hiervan;
hiér sal ons moet uit, so gou as wat ons kan.”

Dit was 1964
in Blyvooruitzigt, Carletonville
toe Hettie daardie aand
weer haar kosb’re tyd verspil
deur vir oulaas na ’n kraak te kyk
net voordat sy van moegheid
in ’n diepe slaap beswyk.

Die winterswind was snerpend koud,
Augustusmaand net drie dae oud
in Carletonville, aan die Verre Wes-Rand.
(Dit was vroeg in die oggend –
so twee-uur se kant.)

En toe breek die doodse stil…

Hettie het blykbaar hard gegil
toe hul huis opeens in vlamme staan
(net voor dit na benede gaan)
en die aarde onder hewig druk
mond oopmaak
en haar áls insluk.

(Goud het seker maar ‘n dowwe blink
as huis en haard in ’n gat wegsink.)

Ns.

Jare later kon die buurmansvrou
die groot geraas nog goed onthou:

Want toe mure breek en vensters kraak
het als vir haar te veel geraak.

En die skok was boonop dubbel groot
toe die radio sê:
“Jim Reeves is dood.”

© Carma Shaw
4 Junie 2014

Op 3 Aug 1964, op die myndorpie Blyvooruitzigt, het ‘n reuse sinkgat die huis van Johannes en Hester (Hettie) Oosthuizen geheel en al ingesluk. Hettie, haar man, hul drie kinders en die huishulp was binne die huis tydens die gebeure. Vir meer inligting…google die volgende woorde; sinkgat blyvooruitzigt Carletonville.




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed