
Meditasie as medikasie
(woordtelling 397)
As ek my familie en Christen-vriende moet glo, is ek verseker met haastige treë op die breë pad na daai gevreesde warm plek want sien, meditasie is mos iets van die bose. Joga ook, al beoefen ek nie Joga nie maar eerder Pilates. Vir die oningeligde is dit egter een en dieselfde ding en volgens hulle loop dit uit op die aanbidding van Boedha, of sommer aanbidding vir die duiwel ook. Baie van daai’s sal nooit raai dat hulle dalk self ‘van die duiwel’ is nie want hulle sit mos elke Sondag hul gereserveerde plekkie in die kerk vuurwarm en hou Woensdae Bybelstudie saam met die ander wat op loer is waar die res van die beskawing verkeerd trap.
Self het ek by my liewe Moeder geleer dat wanneer jy jou gedagtes laat stil word, gee jy die duiwel kans om in te klim en oor te neem. Ai tog. As liewe Moeder net geweet het dat daardie lieflike stilte die beste teenvoeter is teen depressie en angstigheid, sou sy dit dalk ook probeer het! Maar nou ja, mens probeer seker nie iets wat jy met elke vesel in jou lyf vrees nie. As ek geweet het dit help vir oorgroot emosionele reaksies, sou ek dit dalk vroeër in my lewe ondersoek het en net dalkies sou ek minder moorddadige gedagtes gekoester het.
Maar nou ja, elke ding seker op sy tyd. Mens leer seker eers wanneer jy genoeg ongemak ervaar en uiteindelik bereid is om iets nuuts te probeer. Dan eers mag jy dit oorweeg om die duiwel aan sy horings te vang en bloots te ry. Eers wanneer jy ervaar dat jy toe nie per ongeluk vir Boedha begin bid het nie, en die kalmerende effek van meditasie ervaar, sal jy ontdek hoe die dinge waarin ons glo ons soms glad nie tot voordeel strek nie.
As ek nou die Genie se boepens lampie kon vryf en net een wens kon kry, sou dit wees dat mense se oë bietjie sal oopgaan en hulle sal wakker skrik vir die feit dat daar nie ‘n duiwel agter elke bos wegkruip nie, maar dat daardie duiwel dalk veel eerder baie knus in hul oënskynlike heilige gedagtes woon! Daar is seker baie maniere om stil te word en om in gebed te tree is verseker nie stil nie!
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die April 2021 - Oordenkingsprojek