Jongste aktiwiteit:

Mevrou Daniels

bo die bed en langs die venster
hang jou foto’s teen die muur
van die ou’tehuis in Brackenfell
se kamer drie nul vier

*

daar sit jy met jou blomrok aan
mooi gehandskoen en gehoed
op jou skoot lê daar ‘n bybel
en ‘n ou gesangeboek

die hout raam om ‘n trotse man
‘n regte gentleman was hy
en neffens hom, in room geklee
‘n lang skraal dame aan sy sy

die baba dra ‘n fraai dooprok
wit satyn en kantpatroon
ek’s seker jy’t haar liefgehad
van haar kroontjie tot haar toon

en hier’s jul almal bymekaar
vier kinders, vrou en man
verbeel ek my die veraf kyk
en jou oë so vol verlang

die foto’s is al dof, mevrou
maar’s dit ‘n krul daar teen jou wang
en hoe’s dit dat geen fotograaf
ooit jou glimlag vas kon vang

*

só lê jy nou, die jare om
weinig meer as been en vel
onder lakens en komberse
wat talle ure af moes tel

op die trollie by jou voete
pryk vandag ‘n blommeskaar
want blomme is mos oorgenoeg
na nege-en-neëntig jaar

en bo die bed, langs die venster
net stokou foto’s teen die muur
van die ou’tehuis in Brackenfell
se kamer drie nul vier

© C. Shaw
18 Mei 2016




Ek skryf grotendeels gedigte vir ontspanning. Ek skryf graag oor die natuur, mense en hul stories en plekke wat ek besoek het. Ek doen dikwels 'n bietjie navorsing oor 'n onderwerp voor ek skryf, want ek geniet dit om te leer. Ek hoop altyd om darem 'n emosie of twee wakker te maak met dit wat te sê het, en dat julle lekker saam sal lees :-)

4 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed