‘n Kamer met ‘n uitsig (‘n brief aan Shirley van Engeland)
Beste Shirley
ek neem foto’s deur groot ruite
met die skoonste, skoonste glas.
Vér onder groei sipresse
en die groenste, groenste gras.
Die dam lê blink en blou.
Ek skryf vandag vir jou
vanuit ‘n vertrek vol vrouens, koek en tee.
Daarbuite speel die mense gholf.
Dit voel als so half
koloniaal vir my.
Ek hoort nie in die plek nie.
Só sit ek nou en dink
en wyl die horisonne heuwel
en deinserige wolke vir my wink
verlang ek na ‘n wêreld ver van hier.
Na elders
waar zebras oor die velde wei
en dit skemer word oor Afrika.
Na dáár
waar ‘n olifant nog spore los
in paadjies tussen gwarriebos
en na vlaktes
waar reuse doringbome troon.
Soos ‘n Meryl Streep van ouds
wil ek ook daar gaan sit
in skadu’s waar daar vrede is
en die takke van Acasias oor my kroon.
(Shirley, moet vir niemand sê nie,
maar dáárdie prent*
dit laat my nou nog huil
aan die begin en aan die einde
en ook sommer tussen-in.)
Ek skryf die dinge ook maar net vir jou,
want ek weet dat jy verstaan.
Jou paspoort sê jy’s Brits
maar jou hart . . .
jou hart klop Afrikaan.
Ja, die kamer het ‘n uitsig
. . . dit is een soos min.
(Iemand het so pas my koek en tee gebring.)
Die suidoos lê vanmôre
~ uiteindelik ~
darem stil.
Ek stuur vir jou die foto’s
en groete,
hier uit Durbanville
* ‘prent’ verwys na die film ‘Out of Africa’
C. Shaw
9 Oktober 2015
10 Kommentare
-
Ronel Janse van Vuuren
Pragtig.
-
Anze
die hele gedig speel soos n film voor mens af.. pragtig gepen soos altyd
-
Amaspoke
Dis 'n baie unieke styl wat jy gebruik hier. Dit is so persoonlik en intiem. Pragtige skrywe
-
neels
Sjoe Carma hierdie werk verdien beslis n diamant
-
Koekekranka
"I had a farm in Africa..." Ai, Viooltjie, jy maak mens binne Afrika na Afrika verlang soos wat jou hart in hierdie pragwerkie van jou klop. En ek verlang sommer so moedswillig na jou olifantpaadjies en die uitsig daar waar jy gesit en droom het soos 'n Meryl Streep toe jy jou hart uitgeskryf het! Maggies mensie, hierdie is 'n sielgryper wat jy geboorte aan gegee het! Ons is inderdaad geseënd met digters soos jy hier op Ink.
-
Kiekies
Ek weet nie of daar veranderinge aangebring is nie, maar hierdie een bly 'n treffer! Ek is saam met jou daar vir koek en tee. Het jy die kaaskoek geproe?
-
Inkmoderator
Ek dink die deursnit leser sal dit dalk miskyk, maar ek dink, as skrywer het jy (bewustelik om onbewustelik) gepoog om die eensaamheid van die karakter voor die skoonste, skoonste venster te verbeeld, eerder as die prag van 'n Afrika omgewing. Dit is natuurlik my interpretasie. ek voel die karakter verwys juis oordrewe na die groenste-groenste gras omdat dit dalk uit bereik is. Dit mag dalk 'n bejaarde wees wat in 'n tehuis is en dan verlang na die jong flukse dae waarin sy meer aktief kon wees. Die idee word vir my versterk deur die voetpaadjies wat die Olifante mag trap ens. Ek volg jou werk met groot belangstelling. Jou ritme is so heerlik leesbaar, dit rol sag en maklik van die tong; die rympatrone, alliterasie en klankgrepe fassineer en boei. Dit is 'n menslike (eerlike) vers wat goeie poësie geword het omdat dit keurig en met oorgawe versorg is. Welgedaan. Groete
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
borrels
Baie goed Viooltjie ... mal oor dit!