Jongste aktiwiteit:

’n Verhaal op elke gesig

“Die gesiggies in hierdie deel van die dorp is darem maar iets om na te kyk,” sê ek en my kollega vir mekaar, so amper uit een asem, terwyl ons by ons prokurower se kantoor uitstap. Die skoon vars goed geklede vriendelikheid wat agter elke lessenaar en ontvangstoonbank vir ons groet, is in suur kontras met die afgeleefde blik, doelbewuste miskyke of die wuiwende seksuele dienswerkers aan die oorkant van die paaie waar ons die ekonomie aan die gang hou; of soms dink ons so.

Die relaas oor elke mens se keuse van waar en wat hy is, is sekerlik al rug-af gery, maar dit is egter ons medemense se gesigte wat meer as gereeld by my spook; die sogenaamde goeies net soveel soos die sosiaal onaanvaarbares. Alhoewel, indien ek konsekwent daaroor moet betrag, dan bepaal die sosiale struktuur waarbinne ons leef grotendeels wat en wie aanvaar word, en wát nie.

Verlede Sondag moes ek en ons enigste oorblywende tienerseun noodgedwonge die groen heuwels van ons slaapdorp verlaat om laatoggend die amper verlate strate van ’n Elsiesrivier op pad kantoor toe aan te durf.

Ná die kantoorbesoek wou ek sommer brandstof vir die binnebrand van die sedan ook ingooi. Terwyl die dampe van die vars vloeibare loodvrye goud lustig rondom ons hang, trek daar ’n Cortina met dampe van sy eie langsaan by die pompstasie in. Die manne sit voor en die twee vrouens met die kind sit agter en almal rook; by gebrek aan ’n suurstofmasker, so ook die jongeling. Die musiek op die andersins stille Sondagoggend is blêrend uit die een of ander Afrikaansdans – of Sokkie en jol- of so iets-album. Die bestuurder stamp sy stompie in die hoek van sy mond en sleep sy plakkies oor na die gerieflikheidswinkel terwyl hy sê-vra “50 bucks”.

Sy oorpakbroek is nie baie skoon nie en op die Cortina se “bonnet” sit daar vatmerke as getuienis van ’n onlangse herstel. Die ou karre is mos so en sommige van hul eienaars ook.

Ons seun staar hangend, half skuins, hier voor my verby om die Cortina en sy mense beter te sien; hy ken nie die werklike lewe Cortina’s nie en sommige van hul insittendes nog minder. Hy kom nie aldag in aanraking met Afrikaanse mense, sogenaamd sý mense, wat Sondae raas, oorbelle deur hul oogbanke dra en hul hare snaaks sny nie. Hy weet almal dra deesdae tatoes, maar nie die hondjie-, hartjie- en cupido-prentjies van goedkoop tatoe-kunstenaars uit dele van die dorp wat hy nog nie van gehoor het nie.

Hier voor my kan ek die glimlag van verwondering van sy gesig sien afgly terwyl hy skielik besef dat hy ’n nuuskierige toeris in sy eie stad is!

Die bloedbelope koue terugkyk wat hy uit die Cortina kry, bevestig hom as ’n vreemdeling in hierdie dorp.

Sy mooi skoon seunsgesig in die venster van ’n netjiese blink voorstedelike sedan is meteens net so uit sy plek soos die vrou met die toutjieshare en die stompie by een van ons vooraanstaande tantes se Saterdagoggend tee-onthaal en daarmee saam, al die sondige vooroordeel wat die vergelyking mag dra.

Die jong professionele vrou, ’n regsgeleerde in ’n netjiese ontwerpersrok, sykouse en keur juwele, se oë glimlag saam met die spierbewegings om haar mond toe ons manne ’n grappie tydens ons bekendstelling gister maak. Sy is gemaklik in hierdie omstandighede en die plek waar sy haar bevind. Sy hoef nie te veel oogkontak te maak nie en haar vriendelikheid strek tot aan die einde van die armlengte wat genoeg is om die dagtaak verrig te kry. Sy het ons nie nodig vir meer as wat sy wil beding of beoog nie. Dít is moontlik waarom haar beroepskorrekte gesig aanvaarbaar en vir ons as honger-en-dors-na-skoner mense, selfs buitengewoon aantreklik sou wees.

Op die hoek oorkant ons kantoorgebou is daar ’n geboë man wat so onlangs soos maande gelede ’n jongman was. Hy was lenig, maar gespierd met lang hare, eintlik amper aantreklik en goeie tande.

Toe het hy straat toe getrek.

Daar kan hy nie om vlugtelingstatus aansoek doen nie; hy kan nie ’n uitreik van enige goedsdiens-organisasie verwag nie, want hy is een van te veel wat opgegee het. Hy en ander soos hy, is nie ’n vlugaansluiting en nog ’n dag te perd ver van die sogenaamde Westerse beskawing af nie en hy sit nie vasgegordel agter die ystergordyn, of êrens in die Ooste nie. Hy word vir nie vir sy geloof, of selfs gebrek daaraan, vervolg nie; hy is net hier.

Sy verlies aan behoorlike breinwerking, die insinking van die laaste deel van sy menswaardigheid en elke kosbare gram goeie chemiese denke, is saam met sy liggaam, sy hare en sy tande daarmee heen. Sonder seremonie en aankondiging het hy net tot niet gegaan.

“Dis sy eie skuld!” gil ons almal van die sypaadjie af en uiteraard elke hardop stem met genoeg meriete daarby: “Ons ken sy soort!”

Ons slim mense, ons ontwikkeldes, geleerdes het die vermoë om vinnige afleiding uit gesigte te maak en om dit dan te gebruik om ons ‘n voorsprong in die voorspelling van ’n persoon se karakter en gedrag te gee. Dit help ons om te onderskei wie is gesond en wie lyk siek. Dit laat ons onderskei wie om te vermy, wie jy kan terg en wie dalk sy beuel geblaas wil hê.

Gesigsoordeel gee ons ‘n gevoel van ’n ander se godsdienstigheid, seksuele oriëntasie, losbandigheid, aggressie, bekwaamheid, afhanklikheid, intelligensie, en selfs betroubaarheid! Dit alles net op die sigwaarde van hoe hulle lyk en op sterkte van jou en my insigte; dieselfde oë waarna ander na jou kyk my ou!

Soms kan ek ‘n boek deur die omslag oordeel, maar meer as gereeld, speel daar ’n verhaal op elke gesig wat ek ontmoet. Kyk ’n slag na ’n ander mens se gesig en doen jou bes om hom of haar raak te sien, want as jy nie die skeet van ’n stukkende mens daarná kan herken nie, is die oordeel net op jou!




5 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed