Olga in die Appelkoosboord – ‘n Kersverhaal 640 woorde
Olga is al weer amper laat vir die kerkraadsvergadering. Dit is werklik ongemaklik om nog hierdie tyd van die jaar vergaderings te hê. Dis só ’n gejaag en almal wil graag die jaar afsluit en regmaak vir die Kersseisoen wat voorlê. Sy verwag juis ’n hele huis vol gaste. Sy voel om dit te noem by die vergadering, sodat hulle nie volgende jaar weer in Desember ’n vergadering sal hê nie. Eintlik voel sy sommer lus om as kerkraadslid te bedank.
Toe sy by die kerksaal aankom, is daar egter geen mens te bespeur nie. Sy soek oral, maar kry niemand nie. Het hulle dalk die vergadering afgestel en nie vir haar laat weet nie? Kan dit regtig wees dat hulle so onnadenkend is? Nou het sy verniet al die moeite gedoen om te kom!
Geïrriteerd stap sy na die perskeboord agter die kerk. Die perskes is ryp en sy sal maar vir haar een of twee pluk. Sy voel altyd beter as sy iets geëet het.
Dán kom die gewaarwording: iets is anders. Ja, iets is beslis anders, maar sy kan dit net nie plaas nie. Vir ’n paar minute staan sy doodstil voordat sy versigtig vorentoe begin beweeg, voetjie vir voetjie die boord in.
Tussen die bome begin sy bewus raak van die allermooiste klanke. Dis stemme. Ja, dis mense wat sing. Dis die heel mooiste musiek wat sy nog ooit gehoor het! Sy stap in die rigting daarvan.
Dan sien sy skielik ’n engel en nog een en nóg een! Genade! Wat gaan aan? Droom sy? Sy is nie tipe mens wat aan engele glo nie, en meer nog, engele tussen perskebome sien nie!
Wel, dit ís naby Kersfees en dit ís seker moontlik. Engele word mos met Kersfees geassosieer, maar regtig, hier in Suid-Afrika loop mos nie gewoonlik engele rond nie. En hierdie engele lyk glad nie soos hulle veronderstel is om te lyk nie!
Engele het sulke klein, ronde, plomp lyfies, soos hulle op kerskaartjies en in kinderbybels lyk. Dierbaar, pragtig, met vlerkies en krulhare en lang wit rokkies en stralekranse om die koppies. Engele is drukbaar, maar hierdie engele lyk anders. Hulle is groot! Groter as syself, en mooi. Besonder mooi. Daar is iets heiligs aan hulle soos wat sy nog nooit voorheen gesien het nie.
Hoe verder sy stap, hoe meer raak hulle en weet sy dat sy op pad is om iets groots te sien.
Skielik is daar ’n groot, oop stuk voor haar in die boord en sy sien mense. Baie mense. Vreemde mense, maar ook van haar eie dorp se mense. Die ander lede van die kerkraad is ook daar en hulle is besig om God te loof en te prys met ’n oorgawe wat sy nog nooit ervaar het nie.
Toe sy nader gaan, is daar nie ’n krip en herders en wyse manne en Josef en Maria en ’n baba, soos sy nou verwag om te sien nie. Nee! Wie sy daar sien, is Jesus! Onmiskenbaar Jesus! Die Opgestane Jesus! Ook nie soos Hy voorgestel word in kinderbybels nie, maar dis beslis Hy! Hy kom nader, vat aan haar en sê: “My kind. My geliefde kind. Ek het vir jou gewag.”
Al wat Olga kan sê, is: “My Here! Dis regtig U!”
Olga val net daar op haar knieë neer en begin Hom saam met die ander loof en prys. Alles in haar verander onmiddellik. Sy besef dat niks anders meer saakmaak nie, maar net Hy, die Lewende God! Alles draai om Hom. Hy is die Een wat sy wil aanbid. Hy is die een saam met wie sy wil tyd spandeer.
Die belangrikste van alles is egter dat sy besef dat sy nie hieroor kan stilbly nie. Nooit weer nie. Nee, dis iets om vir almal te vertel! Dis die wonderlikste nuus ooit.’
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.