Om vry te wees – soos berge
(goud)
Die bolande se berge
lê uitgestrek voor my;
die kranse en die klowe paradeer
millennia se verhale
by my hunkeroë verby.
Hoe vry moet dit nie wees nie
om vir ewig so te lê nie
(terwyl fynbos teen jou hange groei,
wingerd aan jou voete bloei)
en die hele wye hemel
as jou ope dak te hê nie.
Hoe salig moet dit wees
om die son op jou te voel
en sawens, as die skemer kom
stadig af te koel
tot jy middernag
(kaalontbloot)
kan aanskou hoedat die heelal
haar sterstreep oor jou skroot.
En selfs al reën jy winternat
en al word jy woes verwind
wis jy –
vryheid is die één ding
wat jy binne jou moet vind.
© Carma Shaw
19 Junie 2020
5:12
* kaalontbloot – intensiewe vorm vir ontbloot of vir kaal
* Winternat – nat, soos bv. ’n Kaapse winter
* Verwind – om erge wind te verduur
* Hunkeroë
* Sterstreep
3 Kommentare
-
Koos Elsum
Dis pragtig en ek trek sommer Kaap toe. Ek vind die verduideliking van die woorde vreemd waarom vind jy dit as nodig?
-
Seirdna
Ja-nee Alweer uitstekend met beautiful neologismes
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Junie 2020 – Vryheid projek