
Ons beurt om te doop
Ons doop, of eerder, na vele probeerslae om die datum vasgemaak te kry, doop dogter en skoonseun uiteindelik hul klein mannetjie. Hy het al selfs sy oorspronklike doopklere uitgegroei, maar as ‘n klip in jou pad gerol word, moet jy maar daarom werk, al neem dit ‘n ruk!
Nou ja, ons suiker af Oos Kaap toe vir die groot geleentheid. Pak iets van ALLES in, want wanneer dit somer is in Gauteng, is dit winter daar skuins onder, en wintertyd het hulle altyd onverwagse hitte. My kas kan nie nóg nood-inkopies hanteer nie, en ek pak vir al die seisoene en tussen-in ook. Plakkies direk langs die stewels!
Ek stap agter skoonsus die kerk binne. Klein dorpie, klein gemeente. En sy mik vir heel voor. Ek meen hééltemal voor. Reg onder die predikant se neus, en Ano doen nie ‘reg onder die predikant se neus nie’ – nooit nie. Het geen begeerte om sy sproete/plooie/neushare te sien nie. Ek hou daarvan om die mense te bewonder … van ‘n (veilige) afstand af. My 5-jarige binne-kind se verbeelding is op hol. In sy verbeelding is hy die enigste enetjie wat hier sit en stoute beentjies swaai, en vandag gaan hy raakgesien, en bepreek word.
‘n Volle agt rye agter ons is dolleeg. Die gallery is stampvol, maar die eerste helfde van die kerk leër as leeg. Dit moet ‘n woeste predikant wees. Dalk een wat op die kansel slaan? Dalk praat hy dat die spoeg spat, en nou is niemand bereid om een spatseltjie vir die gemeente te neem nie. Die besoekers kry die voorreg. Wel, vandag hoor ons verseker hierdie preek heel eerste. In die stad kan ‘n besoeker nog so bietjie onder die radar rondbeweeg en wegraak, maar nie hier nie! Getrou soos dit ‘n klein dorpie betaam, word ons op en af bekyk. Enige vreemdeling is iets om te beskou en bespreek. Van ons vreemde klere tot ons dapper stads-waagmoed. Ek druk my knietjies pynlik styf teenmekaar om die klapperasie te stop, maar verniet. Van die voete af boontoe is alles koud en lam.
Uiteindelik word die doopouers vorentoe genooi. Dogter sluip iewers van agter uit ‘n klankdigte kamertjie, die trappies af. Alleen. Net toe ons ongemaklik wil rondskuif, kom skoonseun se lang bene vinnig die trappies afgedraf. By nadere ondersoek blyk dit dat hy met die toetrek van die moederskamer se deur, sommer met die handvatsel in sy hand bly staan het. Moes dit net eers gou terugskroef…
Nou is dit Baba se beurt en Oupa het die voorreg om hom nader te bring. Ons wag. Oupa kom nie. Klein mannetjie ook nie. In die ongemaklikheid daal ‘n dik stilte neer. Iemand kug daar doer agter iewers. En ons wag. Die stiltes rek. Weet nou nie of hierdie plattelanders daaraan gewoond is nie, maar dit is nie ons stadsmaniere wat hierdie vertragings veroorsaak nie. Oupa se verskoning : toe hy die deur toetrek, staan hy met die handvatsel in sy hand, en salig onbewus daarvan dat presies dieselfde senario hom minute tevore ook afgespeel het. Hy moes natuurlik net eers die handvatsel terugskroef sodat die arme mense daarbinne darem ook een of ander tyd kan uit!
Klein mannetjie kyk met groot oë na hierdie vreemde man met die donker pak wat water op sy kop smeer. Ek hou my asem op. Gaan hy of gaan hy nie? Is dit nou die geleentheid om sy stem luidkeels te laat hoor? Hy het darem gisteraand gebad, en nogal in lekker warm water ook, maar hier lyk dit vir my is die bakkie water so koud soos die klipvloere. Nie eens ‘n effense stoompie ontsnap die geroeste silwer bakkie nie. (Shame, dat die roes nou sommer die kerk ook so kan bekruip!)
Alles gou-gou oor en verby. Die mannetjie het hom so vergaap aan die vreemde man in sy donker klere, dat hy vergeet het om te roer! Beslis nie dieselfde mensie wat ons vroeër by die huis aangetrek het nie…
3 Kommentare
-
Anze
Baie geluk met die doop! Heerlik gelees hoor
-
Kiekies
Ai man, skies ek het hierdie een mis gekyk. Lekker gelees!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Wat n plesier om weer een van Ano se bydraes te lees