Jongste aktiwiteit:

Op die nuwe aarde (silwer)

Is die mens geskape om net vir ‘n tyd lank al sy ledemate en sintuie te benut, net om dit tot in der ewigheid nooit weer nodig te kry nie ?

Die mens was God se idee. Hy maak hom na Sy beeld. Hy spreek hom telkemale aan as “mensekind”.
Hy plaas hom op ‘n pasgemaakte wonderplaneet
met land, see, berge, riviere, watervalle, woude en diere, wat die mens met sy sintuie kan beleef. Hy hang die unieke aarde in die eindelose heelal van sterrestelsels. Dit hou die mens vir eeue besig om te bestudeer om die wonder van kosmos naastenby te kan begryp. God sê dit alles was goed, en Sy beelddraer, die mens, was báie goed.

God neem self ‘n menslikheidsgestalte aan –
My hand sal jou lei
My oog sal op jou wees
My ore hoor jou hulpgeroep
My arm is nie te kort nie –

God identifiseer as ‘n pa van kinders. Hy lag en huil en voel. Sy voete rus op die aarde as voetbank

Hy genereer ‘n mens uit homself en noem daardie mens “my seun”. Die seun onderwerp homself volkome aan die aardsheid, omhels die stoflikheid.

Op hierdie aarde, langs ons ewe aardse medemens,
moet ons alles oor God en die lewe leer. Hier word ons deur aardse metafore gevorm tot dié wesens wat in volle harmonie met God en Sy skepping kan bestaan.

Doen Hy dit álles sodat ons dit vir ewig in ‘n totaal ander werklikheid kan gaan uitleef? Sou ons daar byna terloops onthou dat ons vir ‘n kort tydjie mense was, met hande en voete, oë en ore, en al die sintuie waardeur ons Sy werke kon leer ken? Die hart wat eens warm bloed deur ons are gepomp het sou verskraal tot ‘n blote “stepping stone” na ‘n boheemse bestaan. Stories en gelykenisse sou vervaag tot ‘n vreemde vergange werklikheid.

Maar werk die hele skepping nie telkens terug na groter aardsheid nie? Bly moedersmelk nie steeds die beste voeding, en heuning steeds die wonderlikste soetheid nie? Bly die aardse menswording van die ewige Skepper nie die hart van Sy openbaring aan ons nie?

Waarom hunker selfs die moderne katoeter-behepte mens so mateloos terug na die ongeëwenaarde prag en eenvoud van die natuur, wat ons kan sien, hoor, ruik, proe en voel, as ons eintlik op reis na ‘n ander werklikheid is? Kan die essensie van menswees dan so vêr verwyderd wees van die noukeurig geskape wesens wat ons is?

Is die hele gedagte dat die mens eintlik primêr ‘n gees is, met die lastigheid van ‘n beperkende tydelike sintuiglike liggaam, nie maar uitloopsels van die Griekse filosofie en ander denkwyses nie?

Het ons dalk die geesdimensie, wat so integraal deel van ons menslikheid is, deur ‘n vreemde sameloop van leringe en begrippe vlerkies gegee en van ons aardse mens losgeskeur? Het dit dalk ook iets te doen met die bisarre kinderstorie dat ons eendag engeltjies word ?

Wat as die nuwe werklikheid eerder ‘n gesuiwerde aarde sonder afbrekende invloede is, soos dit bedoel was, met alles waarna ons diepste mensheid hunker? Wat as ons dit kan deel met mense, regte mense, aan wie ons kan raak, in wie se oë ons bedags kan kyk, en saam met wie ons na naggeluide kan luister terwyl die sterre oor ons flikker? Is die wesenlike van menswees om iets anders te word as hoe ons geskape is? Lê ons glorie daarin dat ons die aardse natuurwette sal kan minag in ‘n boheemse magsvertoon? Lê ons diepste vervulling in iets anders as om God en ons naaste lief te hê en te geniet?

Ons weet daar is ‘n misterie wat nog moet ontvou, maar ek sukkel met ‘n kunsmatige oorvergeesteliking. Ek sukkel met ‘n toekomsvisie wat my soos ‘n alien wil laat voel, wat supermagte het, maar van my diep geskape menslikheid gestroop is. Ek sukkel om aan die mens sonder ‘n aardse liggaam te dink. Ek sukkel met ‘n wasige surrealistiese hemelbegrip wat van ons aardse wortels vervreemd is.

En ‘n geykte seleksie van teksverse gaan my nie help nie

Colin Steyn

654 woorde




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed