PANTOFFELS
Ek los my nag se pantoffels
by die dag se oggenddeur
en stap getooi in my gebruikte lewens leerskoene
die dagbreek in
Ek hang aan die Drakensberg se groen lappies lippe
en kielie die forel strome met ‘n verbygaan lag
terwyl ossewa spore vermom lê tussen kruipgras
en aanstap klipsteen paaie word
Ek dros saam met die Akasiabome se blare aarde toe
en verdrink in die natuur se blomblaar verekombers
terwyl die swaeltjies tassies pak
en die winter se reisagente
hulle raad op telefoondrade in die sonlig gee
Ek swaai my lyf saam met die biesies by die dam
gee raad vir paddavissies
wat eendag brulpadda kore
by die damwal in die nag sal sing
en staan opsy as die Witteberg se oujongnooiens fonteine
trane afstuur oor die klipsteen rante opgaar damme toe
…ek gaan haal my pantoffels
by die dag se oggenddeur
en stap getooi
die nag weer in
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.