Plengoffer – Eduard Smith
Ken julle die plengoffer
wat aan die bodem van my glas kleef:
daar skarrel asems in klein korrels
teen die buitewand
wat in plaste niks versamel lê.
‘n Losspel vandag
maak groot treë weg
van die opening
in die bottel
wat kurkloos vir volmaak(theid) wag.
Soos ons lewe en laat leef
hang goeie voorneme
meters lap en pluiings wit
teen duinesand
in ‘n wind wat lê, lê én wag.
Ken jy die drankoffer
wat ek nat gesluk
en keelvol verorber het:
my deel versuip
aan vergifnis soek –
edog nie, daar skarrel asems alleen
in klein korrels teen die buitewand
wat in plaste níks versamel lê.
© Eduard Smith
4 Kommentare
-
Moderator
Beste Eduard Baie dankie vir jou deeglike terugvoer. Ek hou daarvan om ook die digter se kant te hoor, omrede digkuns op verskeie maniere geïnterpreteer kan word. 1. Die woordkeuses "korrels" en "verorber" saam met die aangewende konteks van die plengoffer maak nou baie meer sin. Dankie vir jou uitbreiding. 2. Ek volstaan met "gee" i.p.v. "maak" - dit het ook poëtiese waarde en skep halfrym in jou versreël: "gee groot treë weg" (jy hoef dus nie my persoonlike voorstel te aanvaar nie) 3. Wat die gebruik van die parentese aanbetref: ek beskou dit as 'n "dubbelspel" met 'n woord. Die versreël moet sinvol kan lees met én sonder die parentese. Kyk wat gebeur wanneer 'n mens die parentese weglaat: "wat kurkloos vir volmaak wag." - Met die eerste lees kan verwarring plaasvind; "volmaak" het twee betekenisse: "om vol te maak" (wat ek glo jou bedoeling hier is) en dan "om volmaak te wees" (wat jy weergee met die parentese - volmaaktheid). Dis baie fyn woordespel, maar aan die ander kant: hoekom moet jy dit vereenvoudig sodat jy nie 'n leser verwar nie? Die leser kan mos self sin probeer maak. (Dankie dat jy my aan digterlike vryheid herinner het - die lewe is te kort vir 'n digter om rigied te wees.) Glo jy sal nou beter verstaan wat ek oorspronklik hier vir jou wou uitlig. 4. Oor die dubbelpunt: jy mag dit so gebruik (ek was weer eens rigied), want uitbreiding op 'n retoriese vraag kan 'n stelling word, dus is die vraagteken nie nodig nie. 5. Ek hoor graag jou terugvoer n.a.v. my voorstel hieronder: "Soos ons lewe en laat leef hang goeie voornemens; meters lap en pluiings wit" Deur "voornemens" te gebruik saam met 'n kommapunt wat as weglatingsteken in die plek van "en" dien. Ek moet dan my kommentaar afsluit deur vir jou dankie te sê - jy het my laat besef dat ek net so buigbaar soos die digter moet wees.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Moderator
plengoffer s.nw., plengoffers. (verhewe) Drankoffer: 'n Drinksessie is begin deur suiwer wyn as plengoffer uit te giet ter ere van die huisgode (F. Smuts in D.J. Opperman: Gees, 1968, 66). 'n Sumeriese priester bring 'n plengoffer, vermoedelik van soetwyn (A.P. Brink: Dessertwyn, 1974, 8 --- byskr.). Die gebruik van wyn behou 'n seremoniële karakter, en 'n maaltyd is met 'n plengoffer begin (Lant., Apr. 1982, 28) 'n Plengoffer begin die seremonie, dus sal dit nie aan die bodem klou nie, maar eerder aan die kant. S1R2 (Leesteken): 'n Verduideliking of direkte rede volg ná die dubbelpunt, dus is dit verkeerdelik hier gebruik. Oorweeg eerder 'n aandagstreep? Dit vestig die aandag op verdere inligting. S1R3 (Woordkeuse): Korrels herinner aan sand dalk dan eerder borrels aangesien die digter die alliterasie wil laat voortleef … S1R5 (Woordkeuse): Daar is nie 'n woord soos plaste nie, dit is plasse. Strofeverdeling: "'n Losspel …" kan eerder 'n nuwe strofe wees, aangesien dit nie verband hou met die eerste deel van die strofe nie. Taal: Jy maak nie groot treë nie. Jy gee groot treë. "… wat kurkloos vir volmaak(theid) wag …" maak glad nie sin nie. Sodra jy 'n gedeelte van 'n woord as 'n parentese wil plaas, moet die volle woord se dele in die reël inpas, wat nie hier die geval is nie. Strofe 2: Woordkeuse: Goeie voornemens (voorneme is wanneer jy van goeie voorneme is om iets te doen, jou voornemens is dan goed). Strofe 3: Woordkeuse: "Verorber" word eerder met kos as met drank geassossieer. As jy keelvol is, is jy nie meer lus daarvoor nie, dus maak die woordkeuse nie heeltemal sin nie. Leestekens: Weer eens die dubbelpunt wat verkeerd gebruik word. 'n Vraagteken sal die retoriese vraag versterk. Die laaste drie reëls het presies dieselfde kommentaar as in Strofe 1. Is daar 'n spesifieke rede waarom jy "edog" gebruik in plaas van net "dog"? Dit bly elke digter se keuse of hy die raad aanvaar of nie. Die gedig is uniek en voorwaar iets anders!