Poskaart (Engelse sonnet) (Goud)
sal jy vir my ‘n briefie skryf (per hand)
dat jou onthou my tasbaar by kan bly
en nie sal wees soos spore in die sand
wat wegwieg soos ‘n gister hooggety
stuur ook van jou gedigte asseblief
bevry my met ‘n minnemetafoor
kom steel my met die hande van ‘n dief
bedig my in ‘n liefdeskuld verhoor
ek mis jou “hou van jou” herhaletaal
die boeie van die kettings in jou lag
en as die stonde van die aandstêr daal
mis ek alweer die wete van jou wag
of stuur maar net ‘n poskaart in die pos
… miskien sal dit die groot verlang verlos
Andries Fourie
(Seirdna)
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Februarie 2022 – Liefde (OOP) projek