Jongste aktiwiteit:

RIDDERS VAN DIE YSTERPAD HOOFSTUK 13

Die loodsvoorman het gesorg dat Tiny die mooiste van die 15Fs kry toe 3205 onttrek is. Alhoewel Tiny in die begin gewonder het of dit die moeite werd sal wees om weer soveel moeite en aandag aan sy nuwe lokomotief te gee was dit seker maar die ou skoling wat na vore gekom het. Hy het die roosteropsteller gevra om hom die dag op lokodienste te boek en het hy en sy nuwe stoker, Gert is kollege toe, ingeklim om 3156 in n puik toestand te kry. Die hele dag het hulle pype en meters skoongemaak, geverf waar dit nodig is en die stoorman in die store tot raserny gedryf om alles te kry wat hulle wil hê om 3156 blink en spoggerig te kry. Die aand werk hy en sy nuwe stoker, Piet Vermaak, tot watter tyd in hulle eie tyd om 3156 blink te kry. Toe hulle huis toe gaan sal jy 3156 nie ken nie. Sy is nog nie heeltemal soos hy haar wil hê nie maar sal hulle die res gou gou afhandel.

Toe hulle huis toe gaan staan hy n beurt terug op die rooster en teken hy vir n goederetrein Klerksdorp die volgende dag. Hy verduidelik aan die roosteropsteller dat hy eers haar gevoel wil kry voordat hy n passasierstrein met haar werk. Hy is heel in sy noppies oor die feit dat hulle n dubbelvoorspan gaan wees want vir hom is die klim vanaf Orkney na Vierfontein die ideale toetsterrein om 3156 deur haar passies te sit en te beproef.

Toe hy by die huis kom is hy soos n kind wat n nuwe speelding gekry het. Gys word dadelik gebel en afgevaardig om sy kameras gereed te kry en te sorg dat hy die volgende middag langs die spoor is om fotos te neem.

Maureen skud net haar kop: “Meiring that is what I love about you, some times you are just as a little boy with a new toy”.
Toe hy wakker word loop die tyd vir hom veels te stadig tot die roepman hom kom roep, met die gevolg dat hy al klaar reggemaak het en dadelik op sy fiets kan spring loko toe om te gan aanteken. Maureen het maar net weer haar kop geskud toe sy hom groet, hy bly maar soms haar klein seuntjie.

Toe hy aanteken teken Kosie, sy eertydse stoker saam met hom aan as die agterste drywer. Hy het nou net sy drywers aanstelling gekry.Tiny is verheug om hom saam te hê want Kosie is n spanmaat duisend en toe hulle by die lokomotiewe kom is Kosie se opmerking: “Hel oom Tiny jou nuwe perd blink al amper nes 3205”.

Toe hy so voor 3156 gaan staan vir n paar oomblikke om haar te beskou is dit kompleet asof sy hom groet toe die veiligheidsklep begin afblaas. In die Noordwerf koppel hulle op n vrag leë graantrokke en is hulle binne n paar minute reg vir die pad en fluit hy weg. Kosie antwoord agter met n kort fluit om te sê dat hy ook reg is en die treinafsender en kontroleman se groen vlae kom nadat die sinjale groen geword het. Die vrag tel maklik op en storm hulle die stasie met n klimmende spoedmeter deur. Die stoomdrukmeter op 210 kpa en die silinderdrukmeternaald rukkend met elke blaf deur die skoorsteen op 150 kpa. Dit kraak en kners saam met die geblaf soos die meganiese stoker die vuur voer en die injekteur rond hierdie geblaf en geknars se raassimfonie af.
Die klim uit Jordaan stasie toe begin maar vir die twee 15F lokomotiewe is dit nie n probleem nie. Net om hulle te herinner dat hulle deel van die sterwensuur van stoom geword het kom n goederetrein met twee klas 6E elektriese lomotiewe van voor af verby op die aflyn. Hulle seil Jordaan met deursinjale deur, Jordaan is om n draai gebou en die stasievoorman staan vir hulle en kyk terwyl die opkomende son die blink lywe van die twee 15F lokos verlig met koppelstange wat haastig voor die wiele verbyflits, die opkomende son se strale verlig die rook en stoomwolke wat soos n stert oor in die lug bly lê totdat dit verdwyn en die trein oor die bult verdwyn.

By Westleigh moet hulle spoed verminder om af te kruis na die Klerksdorp lyn toe. Hulle hardloop deur, die roetesinjale is bedien en staan die stasievoorman op die platform met die tablethouer in die hand (hulle is nou op n enkellyn) wat deur Tiny met sy arm gevang word en hulle dadelik om die draai verdwyn en dan vir n paar minute sigbaar is teen die bult uit Attie toe om dan finaal te verdwyn oppad Klerksdorp toe.
Op Vierfontein maak hulle ordentlik vuur skoon, die gedagte is om in Klerksdorp terrein net water te vat en te draai want hulle is bietjie haastig.

Alles verloop voorspoedig en nadat hulle in die terrein gaan draai en water gevat het koppel hulle op n vrag mielies met witvere wat blaas. Die treinafsender wag vir hulle en gee die walyste vir Tiny, die vrag 2242 vir 148, n swaar vrag wat alles uit hulle gaan tap.

Toe die vakuumnaalde op 16 dm gaan staan fluit Kosie kort fluitjie agter, hy is reg. Tiny erken en fluit weg. Hulle staan n paar minute sinjale en wag vir n trein wat op die hooflyn verbyhardloop en dan kom die kontroleman se groen vlag. Tiny fluit weer weg en dan kom die treinafsender se groen vlag.
Nou is dit vasvat, met omsteller vol vorentoe en silinderkrane oop word die regulateurs half oopgetrek. Die groot wiele trap vas op die sand en kom hulle in beweging. Spoedig volg die eerste blaf en word die regulateurs vol oopgetrek. Vir n paar keer wil een van die twee aan die gly gaan maar met spanwerk en sand gooi word die glye uitgehaal en begin hulle spoed optel. Spoedig stop hulle op Orkney (onbemande stasie, drywers trek self tablet) om tablet te trek Vierfontein toe en begin 3156 se groot toets.

Weer word die vrag opgetel met silinderkrane oop met blasende veiligheidskleppe en die kole wat rol soos die meganiese stoker hulle voer. Stoomdruk meter op 210 en die klim begin met vol vorentoe op die omstellers, eers halfregulateur en dan voloop. Die glye word uitgehaal, silinderkrane toegestoot en die klim begin met n geblaf en spoedmeternaalde wat klim.

Tiny voel dadelik, 3156 vat die bank beter as 3205 en dit stel hom baie tevrede. Hy wou dit nooit erken nie maar die 15F met sy effens kleiner trekwiele vat n vrag beter as n klas 23.
Langs die pad kry hulle n man met n kamera wat n hele paar fotos neem. Hy waai vir hulle en Tiny groet met n lang fluit terug, Gys Mostert is daar.

Op Vierfontein vat hulle lank loko want die vure is redelik vol klinkers en toe hulle klaar loko gevat het kruis hulle n trein van voor af. Kosie kom vorentoe en vra vir Tiny hoe sy nuwe perd haar gedra. Tiny is vol lof toe hy antwoord: “Kosie, sy is n bulperd en ek is meer as tevrede met haar”, asof sy hoor wat van haar gesê word antwoord sy met blasende veiligheidsklep.

Die res van die rit verloop heel voorspoedig en is dit toe hulle afteken wat die roosteropsteller vra: “Hoe voel sy Tiny, is jy tevrede met haar”.

Tiny antwoord dat hy tevrede is en dan sê die roosteropsteller vir hom: “Mooi, dan kan jy vir my afteken vir die Drakensberg moreoggend”.

(Skrywersnota: Met die indiensneming van die nuwe Bloutrein is die rytuie van die ou Bloutrein groen geverf en het die Suid-Afrikaanse Spoorweë die rytuie in n nuwe trein saamgestel om saam met die Oranje Snel die Durban Kaapstad roete te doen. Die trein is die Drakensberg gedoop. Dit was n luukse trein met tot lugversorging in die kompartemente.

Wat uniek aan hierdie trein was die trokke agter die kondukteurswa waarop reisigers se motors gelaai kon word. Die Drakensberg was om een of ander rede nooit n sukses nie en is na twee en n half jaar in 1978 onttrek)

Tiny is heel tevrede en is hy op sy fiets huis toe waar Maureen hom inwag. Haar eerste vraag is of hy tevrede is met 3156 en is sy saam met bly toe hy bevestigend antwoord. Haar antwoord is n rare antwoord: “She will be with you till the end of steam in Kroonstad like I will be with you till the end of our earthly time. All difference is she will go for preservation and the first one of us to go will wait for the other one in heaven”.

Die volgende oggend toe hulle op die Drakensberg koppel, nadat die Bethlehem manne geruisloos die stasie ingegly het met hulle twee klas 5E lokomotiewe, is Gys weer daar met sy kamera. Tiny is heel verras om Maureen saam met hom te sien en in die paar minute wat hulle het voor hulle moet ry word hy en Maureen langs 3156 staan gemaak voor Gys se kamera vir n paar fotos. Daarna word Maureen van die platform afgehelp om voor 3156 te kom staan wat trots spog met die groot bord met die spoorweg wapen en die naam “Drakensberg” daarop om vir Gys te poseer.
Die spoorwegpolisieman wat belangstellend nader staan om hierdie mense die leviete voor te lees kom spoedig sy fout agter toe hy agterkom dat die drywer van die trein is wat hier voor die kamera poseer.
Dit is n heel gelukkige Tiny wat wegfluit toe die sinjale groen word en Piet die stasieinspekteur se groen vlag erken. Dit is of 3156 vanoggend wil wys wat sy kan doen. Met silinderkrane oop reageer sy op Tiny se hand toe hy die regulateur half ooptrek en kom dadelik in beweging. Wit stoomwolke ontsnap blasend by die silinderkrane uit en dan volg die eerste blaf toe Tiny haar voloop trek en die silinderkrane toemaak..

“Sy is baldadig vanmore Piet”, merk Tiny op toe die veiligheidsklep begin afblaas om die geknars van die meganiese stoker aan te vul om die vinniger wordende geblaf deur die skoorsteen aan te vul soos hulle spoed optel.

Met deursinjale seil hulle Gunhill verby waar rangeerlokomotiewe besig is om vragte te stoot en begin die klim teen Bosrand bank uit met n rook streep wat teen die lug bly lê en dan geleidelik verdwyn.

Omdat die Drakensberg se kompartemente lugversorg is kan die vensters nie oopmaak nie en het die passasiers nie daardie voorreg om die vensters te kan oopmaak en die reuk van rook en stoom in te asem nie. Hulle kan ook nie by die vensters uitleun om na die flitsende koppelstange oor die trekwiele te kan kyk as die trein om draaie gaan nie. Hulle mis dus n groot deel van die genot van egte treinry soos dit hoort. Was dit dalk haar ondergang?
3156 bring haar kant die hele rit deur en toe hulle Bloemfontein stasie intrek staan Kimerley se blink klas 25NC alreeds en wag om oor te neem vir die Drakensberg se volgende been Kimberley toe. Asof hulle wil beklemtoon dat die einde vir stoom in sig is brul twee klas 34 diesellokomotiewe met n goederetrein deur die stasie oppad Suide toe. Dit is nou al n jaar sedert hulle die Noupoort en Burgersdorp lyne werk en stoom se stem stil gemaak het.
Vir die eerste keer neem Tiny notisie van die gebrul van die diesels en begin hy wonder of hy nie maar later moet oorgaan diesels toe nie. Dit klink darem of hulle meer lewe as die elektriese eenhede het.

Hulle kom met n vrag leë trokke terug. Dit is op die rit dat Tiny opmerk dat die landmeters nou erg bedrywig raak maar is dit of daar vir hom meer werkspanne langs die spoor is. Piet is die een wat opmerk; “Ek hoor ons gaan kleurligsinjale Bloem toe kry en dat Kroonstad n nuwe seinhuis kry”.

Tiny antwoord nie, skud net sy kop, nog n stukkie romantiek wat verdwyn en die gesig van die spoorwegbedrywighede vir ewig gaan verander om die stem van stoom, en daarmee saam, die geklap van sinjaalhefbome in die seinhuise en die gesing van sinjaaldrade vir ewig stil te maak.

(Skrywersnota: die nuwe kleurligsinjaal seinhuis het in 1976 oop gemaak en is al die ander seinhuise gesluit. Die hele Bloemfontein trajek is geleidelik oorgeskakel kleurlig sinjale toe daarna en het die laaste semafoor sinjale in 1977 op hierdie lyn verdwyn.)




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed