
RIDDERS VAN DIE YSTERPAD HOOFSTUK 9
Die winter slaan hierdie jaar skielik op Kroonstad toe en ryp dit die eerste nag met mening. In hierdie tyd het die Meirings getrek en moes Tiny weer drie dae verlof neem vir die trekkery. Hy het gereël met die kontrakteur op die stasie om smiddae een van sy vragmotors te gebruik wanneer al die aflewerings gdoen is en was hulle na drie dae klaar getrek. Dit was egter nie die einde van die trek bedrywighede nie. Alhoewel die voortuin netjies was moes Tiny en Janneman in n hoek in die agtererf buig om die grond omgekeer te kry waar Maureen n groentetuin wil aanlê. Tiny en Janneman het baie gebrom hieroor want die winter is op hande, sy kan tog nie nou groente plant nie. Dit het hulle niks gehelp nie, die grond moet lug kry was haar redenasie.
In hierdie tyd het die elektriese eenhede tussen Kroonstad en Bethlehem ook begin loop en het die stem van stoom vir ewig stil geraak op hierdie lyn.
Die aand toe Tiny aan diens gaan vir 7947 Bloemfontein toe is dit erg bewolk en val daar kort kort so n paar druppels ysreën. Na die noorde toe in Transvaal het dit die vorige dag begin reën. Toe Tiny die treinnommer sien weet hy dat daar weer n bitter moeilike rit voorlê want die trein se nommer wys dat dit n vrag steenkool is. Steenkoolvragte wat natreën versamel water onder in die trokke en word hulle swaarder as wat die vrag moet wees want jy begin n paar ton water in die vrag saamsleep.
Dit is bitter koud toe Tiny sy mense nege uur die aand groet en op sy fiets klim. Kort kort val daar n paar druppels ysreën wat teen sy gesig vasslaan en Maureen wou gehad het hy moet liewer met die kar werk toe ry maar hy wou nie sy kar verniel om daar in die wind en weer te staan nie.
Toe hy uiteindelik in die roosterkantoor kom is hy potblou van die koue en kan skaars die pen vashou om aan te teken. Saam met hom teken n geslaagde stoker, Andries Jooste aan wat op die agterste lokomtief, n klas 15F, gaan dryf. Kop onderstebo is hy by die roosterkantoor uit en kan nie vinnig genoeg by 3205 kom nie. Met sy kosblik gebêre en Kosie gegroet maak hy eers sy hande bietjie warm deur die vuurkis bo oop te maak en sy hande voor die vuur te hou om te ontdooi voor hy uitklim om die koue te gaan trotseer om te gaan ghries en te olie. Daarmee klaar het Kosie klaar koffie gemaak toe hy inklim en gly Tiny se oog gou oor alles en dan gee hy n kort fluit om Andries te laat weet hy is reg. Dadelik kom daar n kort fluit van agter af en maak Tiny die rem los. Stoot die omsteller 45 grade vorentoe en trek die regulateur oop. Sissend en blasend beweeg hulle vorentoe met die gekraak en geknars van die meganiese stoker wat kole voer. Die injekteur is stil want daar is genoeg water op die oomblik. By die kontrolepunt stop hulle om hulleself aan te gee en n paar oomblikke later gee die kontrolerangeerder hulle n groen lig toe die sinjale opgaan, loslokos Gunhill toe om te gaan hak. In die koplig lyk dit of die spore verys is en die ysreën sif geniepsig neer. Die koue vat aan hulle want n stoomlokomtief se kajuit is nie die warmste plek in so n weer nie, ten spyte van die groot vuur wat daar in die vuurkis brand.
Met die terugbeweeg om te gaan koppel gooi hulle sand vir vastrap as hulle vorentoe kom om die vrag op te tel. Nadat hulle vasgemaak is begin Kosie weer die vuur voer en die injekteur word aangesit. Die blower word vol oopgedraai vir n trek oor die vuur want Tiny wil nie n kans vat as hulle nie onder vol stoom is nie want dan sal hulle dit nie maak nie.
Toe die treinafsender die walys bring sien Tiny dat dit n swaar vrag is, 2130 ton vir 140 asse. Onder normale omstandighede normale vrag maar vanaand lyk dinge anders. Ysreën kan n spoorlyn seepglad maak en die groot trekwiele onbeheersd aan die gly laat gaan en dan is dit spanwerk tussen die drywers om die trein aan die loop te hou sonder om tot stilstand te kom.
Hulle staan nog n paar minute om die stoomdruk in die ketels op vol 210 kpa te kry en dan gee Tiny n kort fluit. Hy is reg en die vakuumnaalde staan op 16dm. Andries antwoord met n kort fluit en dan fluit Tiny weg. Die kontrole punt rangeerder gee hulle aan vir die seinhuis en die sinjale gaan op. Groen lig van die treinafsender af en groen lig van voor af is die inleiding tot die kragvertoning van mens en sy masjien teen die elemente van die natuur.
Omsteller word vol vorentoe gestoot, silinderkrane oop, en die regulateur word eers net half oop getrek om die vrag opgetel te kry. Hulle kom in beweging, die sand help n bietjie, en die wiele trap vas. Dit gaan bietjie vinniger en die eerste blawwe kom deur die skoorsteene. Op albei voetplate kraak en knars dit soos die kole gevoer word en die injekteurs roggel. Dan gaan die 15F aan die gly. Tiny trek nog bietjie oop en Andries stoot toe om weer oop te trek toe die wiele ophou gly. Dan is dit 3205 se beurt om aan die gly te gaan en moet Andries vasvat en Tiny toestoot om die gly uit te haal en dan weer ooptrek. Die kwistige sandstrooi begin nou werk en begin hulle effens spoed optel maar Tiny kan voel hulle trek swaar, die askaste is koud. Die kole rol en die injekteurs roggel. Wit stoomwolke styg deur die skoorstene op soos hulle die Bosrand bank begin klim met spoedmeternaald op 5 k.m.p.u
Kort kort gaan een van die lokomotiewe aan die gly maar met spanwerk bly hulle aan die gang en begin die spoemeternaald opkruip na 10 en dan 15 k.m.p.u toe. Die veryste spore blink in die straal van die koplig. Na wat voel soos n ewigheid kom die eerste tussenblok sinjaal se groen aspek in sig maar Tiny is n bekommerde man. Die stoomdruk het begin daal en hy begin ernstig twyfel of hulle dit gaan maak na die tweede tussenblok toe. Met die tweede tussenblok in sig kom hulle tot stilstand, die stoomdruk het te laag gedaal en moet hulle nou eers opblaas. Andries kom vorentoe en besluit hulle om nie vrag te verdeel nie, hulle gaan eerder n rukkie staan tot hulle weer volstoom is en dan probeer aangaan. Kosie moet intussen vir n entjie grond op die spore gaan gooi dat hulle kan vastrap met die wegtrek.
Na 20 minute is hulle weer volstoom en begin die drama weer van voor af. Hierdie wegtrek is bietjie makliker en kry hulle Bosrand se sinjale naderhand in sig. Tiny kan dit amper nie glo toe hy twee groenes sien nie, hy het verwag dat Bosrand hulle gaan uitkeer maar besluit hy hulle gaan deur. Hiervanaf kan dit net beter gaan tot op Hennenman waar hulle kan loko vat. Hy gooi vir die stasievoorman n nota af om die vertraging te verduidelik.
Intussen hou dit op reën en gaan hulle Geneva en Holfontein deur om op Hennenman tot stilstand te kom om loko te vat. Hulle het baie kole gebruik en is die vuurkiste oorlopens vol klinkers en het die stokers al hulle dae om die klinkers in die vuurkiste fyn te stamp met die vuurysters, en die klinkers deur te werk om dan die vuur te skud en die as te laat deurval in die asputte in. Intussen moet die kole rol om die vuur aan die gang te hou en die ketel moet genoeg water kry. Na amper n uur is hulle weer onder volstoom en kan Tiny wegfluit. Die sinjale gaan op en val hulle in die pad. Gelykwêreld en kom hulle sonder moeite op spoed om Whites en Kalkvlakte deur te seil.
Op Virginia haal die tyd hulle in en nadat hulle klaar loko gevat het moet hulle terugstaan vir drie af en 7707 om verby te kom, hulle sal dit nie voor die twee vinnige treine maak Welgeleë toe met die swaar vrag nie.
Intussen begin dit weer reën en toe dit hulle beurt is om te ry herhaal die hele Bosrandbank drama homself, hulle kruip die bank uit teen 15 k.m.p.u maar maak hulle dit tot by die tussenblok sinjaal waar die afdraende Theron toe begin en hulle kan begin spoed optel, Theron en Theunissen deurseil om weer op Vetrivier tot stilstand kom om loko te vat. Dit is weer n lang lokostop want dit is weer n redelike klim Eensgevonden toe maar hou dit weer op met reën en verloop die res van die rit Bloemfontein toe sonder enige teenspoed. Hulle het egter baie kole gebruik en moet hulle loko toe gaan vir kole voordat hulle kan huis toe gaan. Gelukkig kry hulle n vrag leë graantrokke en is die rit terug huis toe kinderspeletjies en kry hulle deur sinjale tot hulle op Theron net die buitehuissinjaal kry met die huissinjaal vir die hooflyn. Die stasiemeester kom uit en gee hulle n rooi vlag wat Tiny erken en sommer voor die seinhuis stop. Hy kry n waarskuwing vir n gebreekte spoorstaaf wat die vorige trein gerapporteer het. Toe hulle die kilometerpunt nader wat aangegee is verminder hulle heeltemal spoed. Toe Tiny die breuk in sig kry stop hulle voor die breuk en kyk eers hoe sleg is die breuk. Die breuk is sleg maar besluit hulle tog om stadig oor te gaan. Tiny voel eintlik n slag of 3205 effens sak maar dan is hulle oor. Op Welgeleë stop hulle weer om die stasiemeester te verwittig dat die breuk taamlik sleg is en dat hy nie glo dat hulle weer n trein moet oorstuur voordat die spoorstaaf vervang is nie.
Dit is laatmiddag toe hulle afteken en toe voel Tiny hy voel nie lekker nie. Hy steur hom egter nie daaraan nie want dit was n harde nag en is hy seker maar net oormoeg van uitputting. Hy teken vir sy volgende trein die volgende oggend Klerksdorp toe en is hy op sy fiets huis toe.
Maureen prop hom dadelik in die bed en jaag hom grieppille en n hoesstroop in want hy het begin hoes. Hy raak feitlik dadelik aan die slaap en maak Maureen hom later wakker vir ete waarna hy dadelik weer bed toe is.
Toe Tiny die oggend sewe uur opstaan om agt uur aan diens te gaan voel hy nog n bietjie pap maar darem al heelwat beter. Maureen wil hê hy moet dokter toe gaan want vir haar lyk hy nie reg nie, maar hy wil niks weet van af siek boek en dokter toe gaan nie, waar gaan die roosteropsteller op so kort kennisgewing n ander drywer kry om sy trein te werk. Hy laat darem toe dat sy hom met die kar werk toe vat sodat hy nie in die koue fiets ry ook nie.
Sy redenasie is dat Klerksdorp toe nie n moeilike rit is nie en dat hy van middag weer terug sal wees. Maureen se antwoord is: “Die spoorweg sal nie sonder jou gaan staan nie Meiring. Ek soek nie n dooie man nie”.
Hy en Andries Jooste is weer saam dubbelvoorspan en nadat hulle reg is is dit Noordwerf toe om n vrag leë graantrokke te gaan hak. Die vrag is lig, 740 ton vir 148 asse en tien minute nadat hulle gekoppel het is hulle reg om te ry en fluit Tiny weg. Groen vlag van die treinafsender af en groen vlag van die kontrolerangeerder af vat hulle die pad. Met deursinjale word die stasie teen 60 k.m.p.u deurgestorm en begin die klim uit Jordaan toe, kinderspeletjies met die ligte vrag en storm hulle Jordaan deur Westleigh toe waar hulle afkruis op die Klerksdorp lyn. Op Westleigh moet hulle n trein van vooraf kruis, Klerksdorp toe is n enkellyn en is dit toe hulle vir die trein staan en wag wat Tiny se gedagtes terugrol. Die Klerksdorp lyn is soos die Sandveld, het sy eie reëls en regulasies en is daar baie staaltjies oor hierdie lyn te vertel.
Een van hierdie stories is die dag toe hy die oorlaaitrein saam met n jong drywertjie gewerk het. Dit was toe hulle op Groenebloem gerangeer het toe hulle die spul hoenders gewaar het met die ou swart vrou wat hulle aanjaag. Op sy maat se vraag of sy van hulle verkoop het sy geantwoord sy vra vyf rand n hoender. Hy koop toe dadelik n hoender en vang sy toe een en bind sy pote vas voor sy hom oorhandig. Na n paar verdere rangeerbewegings word sy nadergeroep, die hoender wat hulle gekoop het het losgekom en ontsnap.
Sy vang toe nog n hoender, bind pote vas, en oorhandig hom en so het hy nou twee hoenders vir vyf rand. Toe hulle klaar rangeer het het hy weer die storie probeer maar hierdie slag het hy net: “Soeka” vir n antwoord gekry.
Die teenoorgestelde trein hardloop in en n paar minute later bring die stasievoorman die tablet en kan hulle verder gaan om die bank Attie toe te klim.
Op Attie, wat n onbemande stasie is, draai Tiny die tablet terug en kry n tablet vir Groenebloem wat weer n oop stasie is en net snags toe is. Op Groenebloem kry hulle n tablet Rustig toe, nadat hulle die gemengde trein gekruis het en op Rustig is dit loko vat. Hulle vat egter net bietjie water en dan is hulle in die pad Viljoenskroon toe wat hulle deurhardloop Oasis toe. Viljoenskroon het self n staaltjie van die slapende stasievoorman.
Die lyn is maar baie stil in die nag en het die een stasievoorman die gewoonte gehad om snags vir die laaste trein Klerksdorp toe die tablet voor die stasie op te hang en dan sy handlamp op groen, in die rigting van Kroonstad, langs die tablet op te hang. Dan gaan klim hy in die bed. Die drywers het almal geweet van die storie. Hulle het ingekom, voor die stasie gestop en die nuwe tablet gevat en die ander een by die lamp opgehang en sommer die lamp dood gemaak ook.
Die storie het rugbaar geword en het die bedryfsinspekteur besluit om te gaan ondersoek instel na hierdie onreëlmatigheid. Hy het een aand die stasie bekruip, gewag tot die stasievoorman in die bed is en toe die handlamp stil op rooi gaan draai. Toe die trein voor die wissels kom staan het hy die lamp doodgemaak, die stasievoorman gaan wakker maak en hom vertel dat daar n trein voor die wissels staan. Die arme man het dadelik besef dat hy nou in n moeilike situasie is maar het kop gehou. “Maar meneer, hy het n groen lig hoekom kom hy nie in nie”.
Dit is toe die bedryfsinspekteur hom vertel dat hy die lamp rooi gedraai het en doodgemaak het toe die trein voor die wissels kom staan het. Dit is toe die bedryfsinspekteur meegedeel is: “Maar meneer, jy mag mos nie, ek is bevrees nou is ons altwee in die moeilikheid”.
Intussen het n snerpende koue wind begin waai en die lug begin weer toetrek. Op Vierfontein vat hulle net bietjie water en dan is dit Klerksdorp toe waar hulle sommer in die werf vuur skoon maak en draai. Die vrag is n vrag gelaaide vrag graan, 2242 vir 148. Die ergste bank is die bank van Orkney af Vierfontein toe en vat dit alles van mens en masjien af om hierdie bank met so n swaar vrag uit te kom. Daar is baie drywers wat dink dat die Vierfonteinbank kwaaier is as die Bosrandbank, Tiny is een van hulle wat hierdie mening huldig. Op Orkney is dit n dooie wegtrek teen die bank nadat hulle tablet Vierfontein toe getrek het. Die bank word teen 20 k.m.p.u uitgeklim en na veertig minute kom hulle in Vierfontein tot stilstand om loko te vat.
Toe Tiny uitklim om te ghries en te olie voel hy pap van die griep. Op die grond moet hy aan die trap vashou, sy bene wil net swik onder hom. Andries sien dit en kom vorentoe gestap want hy is maar bekommerd oor Tiny. Hy het vanoggend al, toe hulle aangeteken het, gesien Tiny is nie gesond nie.
“Oom Tiny hoe voel oom”, vra hy erg bekommerd. Tiny skud net sy kop, hy voel nou erg pap.
Dit is toe Andries besluit dat hy en Tiny liewers moet ruil. Hy sal voor kom ry saam met sy stoker en Tiny en sy stoker moet agtertoe. Hy olie en ghries altwee die lokomotiewe en dan gee hy vir Kosie sy instruksies. Gelukkig is Kosie n ervare stoker wat op die punt staan om kollege toe te gaan vir sy drywerskursus: “Kosie,laat oom Tiny daar op jou plek gaan sit en trek die vensters toe. Help my net bietjie trek teen die paar banke, ek sal die res doen. Jy sal maar moet stook en dryf. Gelukkig is daar nie nou kwaai banke nie en van Attie af hoef jy glad nie te help nie want dan is dit net afdraende huis toe”. Tiny voel te pap om teë te stribbel en help hulle hom in die agterste lokomotief in. Die res van die rit verloop sonder probleme en toe Andries op Attie tablet trek Westleigh toe verduidelik hy aan die stasievoorman op die telefoon wat die posisie is. Hy vra hy die stasievoorman om met bedryf te reël om die vrag op die stasie af te sit sodat hulle kan loko toe gaan.
(Normaalweg word die vragte Gunhill toe geneem en kan n uur so verlore gaan voordat hulle in die loko kom.)
Hulle gaan Westleigh en Jordaan deur en toe hulle Kroonstad-Noord se sinjale nader sien Andries dat hulle aan sy versoek voldoen het, hulle kry die goedere en sylyn sinjaal werf toe en staan die rangeerder reeds by die wissels om hulle in te bring.
Die loko het intussen vir Maureen gebel om Tiny te kom haal en wag sy reeds vir hom toe hulle afteken. Hulle moet haar help om Tiny in die kar te kry en is sy dokter toe met hom.
Hulle is gelukkig om die dokter nog in sy spreekkamer te kry en nou moet daar gesê word dat spoorwegdokters n nasie op hulle eie is. Harde manne wat nie nonsens van niemand vat nie en word Tiny na n deeglike ondersoek sonder seremonie ingespuit, vir vier dae afgeboek, en n klomp pille in die hand gestop met n: “Kom sien my weer oor vier dae. Sal jou dan aanboek as jy reg is. Julle verbeel julle mos die f… spoorweg sal gaan staan sonder julle en kom julle amper dood hier aan. Dat jy nog nie longontsteking opgedoen het nie gaan my verstand te bowe”.
Arme Tiny het nie n keuse nie en is te pap om te rebelleer, ook nie eers toe Maureen met hom baklei omdat hy in die eerste plek die oggend gaan werk het nie. By die huis prop sy hom in die bed en gaan staan bakarms voor hom: “This is your place for the next four days Meiring and don’t even try to argue with me. If you think Paddy was terrible you will see me in action now if you get out of bed”.
As Maureen Engels praat moet jy weet dit is die Ierse bloed wat nou praat en as jy nou wil moeilikheid hê en die hel oor jou kop wil laat losbars moet jy haar nou teëgaan. Tiny sug maar net draai op sy sy en trek die kombers oor sy kop om aan die slaap te raak want hy is bitter moeg en het hy kouekoors.
Vier dae is hy in die bed waar Maureen hom soos n babatjie versorg tot die dokter hom na n week weer aanboek.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.