Rose pienk en Jakarandas pers
rose pienk en jakarandas pers
ek sing vir jou ‘n bloublomvers
van laventelbos en roosmaryn
van lelies geel soos die son se skyn
malvas bloei steeds in die bloedste rooi
dis die swartoognooi wat flikkers gooi
oor die heiningdraad rank haar ranke groen
sy kleur haar blomme in ryp lemoen
en die muurblom wat so eenkant staan
het weer vandag haar bont rok aan
sy’s ‘n regte juffrou sorgeloos
in perske, lila en pruimframboos
suikerkan en kanferfoelie tuit
vir jou speel ek op ‘n towerfluit
tussen steenboksriet en wildeals
waar winde sag oor die fynbos wals
vergeet-my-niet lag van oor tot oor
sy’t haar hart verpand aan ridderspoor
aanstons staan hul dalk op trou
o, as die liefde net sy geur behou
vlindervlerk wieg die grasklokkies
ballerinas dra hul se dansrokkies
sowaar’s wat tolbos teen die rante speel
die vingerhoed het ‘n purper keel
bessie blou en katjiepiering wit
ek’t jou lief, my lief – nou weet jy dit
sê papierblom vir die aronskelk
na sewejaar van nog nooitverwelk
pluime gras en ‘n blom van was
ek vleg jou in my lintbos vas
voor die aandblom in die lig verdwyn
en dou verdamp uit die kelkiewyn
*
rose pienk en jakarandas pers
ek viool vir jou ‘n bloublomvers
van laventebos en roosmaryn
van lelies geel soos die son se skyn
C. Shaw
9 November 2015
4 Kommentare
-
Evelyn van der Merwe
Hierdie is eenvoudig 'n perfekte blomskildery. Volpunte.
-
Koekekranka
So bly jy is ook hier want ek het verlang na jou verse! Die rede? Lees maar weer self hierdie enetjie van jou dan sal jy dalkies verstaan dat my verlange na die mooi van poësie heel geregverdig is. Baie dankie vir hierdie lieflikste plasing!
-
Kiekies
Ek kan hierdie een nog 100 maal lees. Dis manje-bloemieng-fiek!!!
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Carma een van jou ou werke wat ongelooflik mooi bly