Jongste aktiwiteit:

Saphira se Nagmerrie

Saphira maak haar oë oop. Alles om haar is in grys-blou lig. Die maan flikker agter grys-pers wolke wat vinnig verby dit beweeg. Die Feëtjie Hond ril. Voor haar is ‘n grys steenpoort tussen donker grys klipmure waarop rankplante met grys-groen blare groei.

Agter en langs Saphira is alles net swart niks.

Sy asem diep in en loop deur die poort. Binne is daar mure identies aan dié wat sy buite gesien het. Mis klou spookagtig aan die grond. Sy besef sy is in ‘n doolhof. Sy weet ook dat al manier uit, is deur. Al die verskillende skakeringe van grys maak haar ongemaklik. Dis dalk die rede hoekom sy so sukkel om haar weg te vind.

Om ‘n draai sien sy skielik die Feë Koninging in ‘n wit rok wat lyk asof dit van borrels gemaak is met haar vlamrooi hare wat sag om haar sweef.

Saphira hardloop voorentoe om die Fee te konfronteer oor dié se rol in haar ma se dood. Voordat sy naby genoeg is om vir haar te gil, beweeg die doolhof mure en sy verloor sig op die Feë Koninging.

Woedend, snuffel sy die lug om die Fee te vind. Sy móét haar konfronteer. Sy’t dit nou vir jare uitgestel vir verskeie redes. Maar nou kan sy doen wat sy vir al so lank wou.

Blindelings hardloop sy af in elke gangetjie en doodloop paadjie. Sy gaan die Feë Koninging vind al vat dit ook hoe lank.

 

Die grys donkerte word skielik vervang met grys-bruin klipmure en ‘n geel vloer. Aan die mure is daar nie rankplante nie, maar spieëls in oordadige goue rame. Saphira se refleksie is nie die verwagte swart-en-bruin van ‘n Feëtjie Hond nie, maar in verskillende skakeringe van grys soos ‘n doodsfee. Sy sidder en loop verder.

Die gang eindig met ‘n reuse spieël. Eers lyk dit asof sy haarself weer vasgeloop het, maar in die spieël sien sy die Feë Koninging. Sy kyk agter haar en sien niks. Sy besef dan dat dit nie werklik ‘n spieël is nie en breek daardeur.

Sy verwag die Feë Koninging aan die ander kant. Maar vind net grys-wit mure wat geensins enigiets op het nie. Sy haas daardeur. Die grond gee in en sy beland in ‘n doolhof wat van ‘n groen bos gemaak is wat ideaal vir die doel is. Die lug bo haar is grys met flitse kleur wat daardeur breek.

Die geur van bloureën bereik haar en sy beweeg vinniger: sy weet dis die Feë Koninging se gunsteling blom.

Sy hardloop. Bloeisels groei onnatuurlik op die geplante heining. Sy beland in ‘n opening – die middel van die doolhof – en dis vol bome en plante in blom.

Dis pragtig. Dis Feërie.

Die Feë Koninging staan in die middel. Saphira gee ‘n tree nader en skielik steek die wind op. Dit waai al die bloeisels, al die kleur weg. Die grond bewe en die heinings druk teen haar en dreig om haar te verswelg.

Sy maak haar oë toe. Stilte. Sy maak weer haar oë oop en vind sy’s terug in die grys steendoolhof van vroeër.

Die wind waai nie hier nie. Sy draai in die rondte en sien ‘n ysspieël. Binne dit sien sy dat Feërie gebreek is. Die Feë Koninging is in haar kasteel met bitter min land om dit. Die Feëtjie Hond koninging het haar kasteel en die land waar Feëtjie Honde nog altyd gewoon het. Die Feë Koning het sy donker kasteel en die donker lande om dit waar al die boewe van Feërie woon.

Maar die res van Feërie is weg. Feërie soos Saphira dit nog altyd geken het is vernietig. Fyn sneeu vlokkies val uit die donker grys lug.

Dit kan as ook wees. Al wat oor is van die wêreld waar sy vandaan kom…

Saphira skrik wakker.

Sy’s in die bed in die kamer wat sy al vir jare met Eolande deel. Als is in grys donkerte gehul.

Die Feëtjie Hond kruip uit haar bed en gaan staan voor die donker venster. Eolande slaap rustig. Als is stil en donker buite die kasteel. Saphira tuur die verte in. Sy weet sy sal nie weer aan die slaap kan raak na haar nagmerrie nie.

Veral omdat dit so eg gevoel het.




1 Kommentaar

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed