
Tafereel
Het ek my net die prent verbeel:
Die gloeilamp wat die nag verdeel
– in skadu wat die haard* omring
en oor die stoep, ‘n geelligkring.
Wit mure en ‘n dak van sink
wat vaal’rig in die sterlig blink,
gordyne agter skemer ruite,
‘n sekelmaan aant wieg daarbuite.
Die wind wat deur die bome ruis
– sipresse – langs ‘n vyftigshuis*,
rook wat bo die skoorsteen talm,
‘n stem wat deur die stil weergalm.
Het my oë dit wel gewaar –
my sinne tóg die beeld ervaar:
Die gedaante wat deur newels breek,
die glimlag, wat haar oë weerspreek.
Haar hand nog rooi en ongewas,
die hef wat in haar palm pas –
toe sy om die hoek verskyn,
alvoor sy in die nag verdwyn.
*
Sou die wit huis – met sy stoeplig aan –
langs die verlate pad steeds staan?
Of … het ek my bloot die tafereel
oor daardie donkerland verbeel?
© Carma Shaw
16 Januarie 2017
2 Kommentare
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Somerreën
Mensig, maar die gedig is briljant verwoord, die ritme en vloei en self die gevoel wat jou gedig kweek is besonders. Jou woorde raak lewendig as dit sin maak.