Tatoos, Tawwe Tienies en Teddiebere Silwer 474 woorde
My teddiebeer. Dit is wat ek my 6 voet 6 reus noem. Koop mos die anderdag vir hom ‘n BMW 1200cc
motorfiets. “Midlife crisis”, spot sy dogter uit Engeland en lees hom die leviete voor. Hy swaai sy been
oor die rooi sitplek van die motorfiets. “Ek moet ontslae raak van hierdie boep as ek saam die ‘bikers
club’ wil ry”.
Kyk maar na die mense om jou wanneer ‘n trein motorfietse aangebrul kom. Hulle beweeg vinnig weg
van die gevaarsone. Motorfietsryers word almal onder een kam geskeer. Wild. Roekeloos.
Onverantwoordelik. Niemand sien die ander sy van hierdie sagmoedige leerbaadjiebendes raak nie.
Hulle is familie. Wanneer ‘n broer in die moeilikheid beland, staan almal saam om te help. Selfs al
behoort hy tot ‘n ander groep ryers. Hulle harte en hande is oop vir die mense om hulle.
Dit is slegs wanneer jy in die binnekring toegelaat word dat jy beter insig in hierdie wêreld van die
sogenaamde doodskiste op wiele kry. Dit is nie hulle wat die gevaar op die pad is nie. Lede volg streng
klubrëels wanneer dit by padverbruik kom. Hulle ry in formasie met die president en vise-president
heel voor. Dan volg die kapelaan – ja, die groep het hulle eie kerk leier – die tesourier en dan die ander
lede in orde van senioriteit. Heel agter ry die padkaptein wat die groep se veiligheid in sy hande hou. Hy
sorg dat die motors nie tussen die ryers inbeweeg en sodoende ‘n breuk in die trein veroorsaak nie. Dit
is ook sy plig om nuwe lede padwys te maak.
Die lede dra leerbaadjies of te wel ‘leathers’ waarop die klub se logo en rang van die lid voorkom.
Nuwe lede moet deur ‘n inisiasieproses gaan en kan uitgeken word aan die afwesigheid van logos op
hulle baadjies. Hulle moet hierdie logo verdien deur sekere opdragte te voltooi. Streng keuring vind
plaas voordat iemand tot die klub toegelaat word. Vroue in hierdie groepe hoef nie deur hierdie
prosesse te gaan nie. Haar man aanvaar volle verantwoordelik vir haar. Hulle word met
respek behandel en hanteer ook al die liefdadigheids funksies gedurende die jaar.
Van die lede word verwag om aktief deel te neem aan groeps aktiwiteite.
Soms breek hulle weg Harties toe vir ‘n melkskommel of twee. Die rëels van elke groep verskil, maar die
Christelike groepe is baie streng ten opsigte van alkoholmisbruik. Geen ryer sal dit waag om sy mond
aan drank te sit wanneer hy sy motorfiets hanteer en-of sy klubklere aanhet nie. Wanneer hulle by ‘n
kroeg bymekaar kom, word daar koeldrank en water uitgedeel. Dan gesels en kuier hulle tot laataand.
Dit word ‘n gespelery en gespottery onder mekaar. Dit is dan wanneer die spreekwoord; “Boys will
be boys, the only difference is the size of their toys”, werklik betekenis kry. Tawwe tienie teddiebere met
harte van goud.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Desember 2020 – OOP-projek