Trane in die as (Opdrag 3)
Onder gister se ou nuus weggesmyt
aan wintersknou ontbloot
is sy toegewoel in ‘n donker gevoel
van totale verlatenheid
vêr van genade na aan haar dood
voel sy hoe snerpende koue
aan haar beendre klou
en gate in haar grou gemoed grou
vorentoe agtertoe heen en weer
word haar veglus tot stilstand gewieg
soos ‘n eensame vlam in die as versmoor
en die stryd teen die nagwind verloor
weemoedig stort sy ‘n traan in die as
oor woorde van ‘n hartsgebed;
smekend dat haar vrese
mag stil raak soos die nag,
sou sy dié stryd ook verloor het
en weg sal raak in ‘n diep warm slaap
voor sy ‘n koers met die doodsengel
die ewigheid inslaan
“Na aan die dood het sy vorentoe en agtertoe gewieg;
as sy aan die slaap raak, sou sy die ewigheid in stort. “
Met dank aan D. Sleigh uit die boek Eilande.
©Loretta Szikra
8 Kommentare
-
Driekie
Baie mooi, Loretta
-
Callie Vermeulen
Pragtig Loretta! Hou baie hiervan.
-
Elroux
So mooi Loretta.
-
Estelle
Treurig, maar baie mooi
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou deelname aan die Pendoring 2 / INK kompetisie