Verweerde Tuiskoms
Haar voorkoms is so bruin
soos okkerneuthout-bome
haar gelaat soepel en glad
soos ‘n droom.
Die begeertes van haar hart
vloei in strome deur haar oë
en vorm poele voor die skeefgetrapte
skoene aan sy verweerde voete.
Sy spore lê in groewe
oor die landskap van sy reis.
die vore langs sy oë getuig
van jare se droogte en smart.
Hy lig sy hand om haar
jonkwees te seën en soek
die tuiskoms in haar blik
wat onbeskaamd
na sy letsels staar.
Haar sagte hande vat
sy vereelte seën vas
om hom te troos
met die salwing
van reukolie
wat uit haar lende vloei.
Hy raak haar wang
teer aan en nooi haar
in stilte na die binnekring
van die draaikolk in sy wese.
Haar hart ontskulp
soos ‘n skugter oester
wat gereed wag
vir die tydige bevrugting
van sy tuiskoms.
© Zymrly 29 Maart 2016.
4 Kommentare
-
Ammie Moon
Hallo Zym, dis lekker om jou hier raak te loop....Die woordjie 'teer' in die 2 de laaste strofe is vir my oorbodig want die aanraking aan haar wang is op sigself reeds 'n baie teer aksie...Jou laaste strofe is werklik besonders, dit bly draal lank na die leser die gedig klaar gelees het....dankie vir die deel..... A
-
Arnold
Dis soms so hartseer om te sien hoe dit so onverwags kom in 'n mens se lewe.
-
borrels
Dis 'n mooi beskrywende gedig. Ek kan amper die karakters "sien".
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
Pragtig geskryf