Vriendskap
Kom kuier vir my, dan
skink ons ‘n glasie chardonnay
tussen jou en my –
ons vergeet die verlede
en fokus net op die hede.
Ek verlang na ons koffiekuiers
by die Mall
ons sorglose tye van koukus en klets
oor wêreldsake en lewensprobleme
die deel van talle hartsgeheime.
Ek mis ons uitspantye
by Buffelspoort en Klein Kariba
ons laatmiddagstappies
en son-sak cocktails
langs die braaivleisvuur.
Kom kuier vir my, dan
skink ons ‘n glasie chardonnay
tussen jou en my –
ons vergeet die verlede
en fokus net op die hede.
Ons pak verlore drome en wense
saam met soet-suur herinnerings
in die wat-eens-was kis
begrawe dit op paradyseiland
en ontwerp ‘n nuwe lewenskaart,
want vriendskap ken geen faktor
en inperking bied geen waarborg
die hart bly steeds ongebonde
getrou aan die wat wag.
So, kom kuier vir my, dan
drink ons saam chardonnay
en vier ‘n vriendskap wat vir ewig sal bly.
© Driekie Grobler
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.