Jongste aktiwiteit:

tiende maand (BRONS)

Pastiche van “OKTOBERMAAND” van C Louis Leipoldt (1880-1947)

tiende maand

jakarandas dans op maat van die wind
geklee in purper pers en pruim
jakarandas waai hulle arms fleurig fraai
vrolik vry in volmaakte val

Dit is die maand Oktober,
die mooiste, mooiste maand!
giggelgeel glimlag strale blink
as hul die maanlig saans bekoor

die hemel hoor die engelekoor
waar geur en kleur ontmoet
blommeprag van Oktobermaand
ʼn kamoeflage in laventel lane

Dit is die maand Oktober!
waar wilde-als welig woon en
japannese anemone fleurige
danspassies doen in lentebries

getooi in pienk en karmynrooi:
soos ʼn lente-bruid fraai versier
het hulle gewag vir die bruilofs-uur
om die sprokie so te versprei

Dit is die maand Oktober!
ʼn bruidsboom in wit getooi
selfs die witkatjiepiering is uitgedos
in donkergroen harebos

kyk jy om jou heen sien jy net
geure dans in aroma soet van
perskeboom en nektarien
kersiebos en koejawel

ten spyte van ʼn lang gewag
vir die koue winter om te groet
as bome en bosse vaal verskroeid
staan deur kil snerpende koue

is die wete werklik welbekend
soos die seisoene draai
sal die vallei aanstons in geur van
aroma se klanke staan

Dit is die maand Oktober!
geelvinke kwetter en kweel
ʼn houtkapper tok-tok-tok
met sy snawel teen die struik

die neusbekhoringvoël vroetel
met sy neus tussen boom en bas
uit die ou apiesdoringboom
kom sy ete te voorskyn

Dit is die maand Oktober!
my gedagtes gaan ver
hemelwaarts ver-ver weg
waar my mamma woon

begeertes van die ewige mooi:
geur en kleur in harmonie
wat kan dan mooier wees
as die mooiste maand

ons stap nou in die tuin –
die regte paradys
rein-wit die aanskoue
van die druiwetros

verruklik is die oggende
verruklik is dit aande
ons stap nou in die tuin
van die hier en nou

wat skeel die koue my nou
waarom dink jy nog daaraan
die ysvingers van kapok
wat ruglangs kruip

as ons nou kan staan in die laan
van laventel en jasmyn
so met die wentel van die son
skitter die maan in die aand

jakarandas dans op maat van die wind
geklee in purper pers en pruim
jakarandas waai hulle arms fleurig fraai
vrolik vry in volmaakte val

©Marlene Erasmus
31/10/2020




Maak 'n opvolg-bydrae

op
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed